’n 83-jarige man genaamd Xu van die stad Qingdao in die ooste van China is in die sop ná ’n berg rommel wat hy oor die jare opgegaar het, by sy woonstel begin uitpeul het en nou die ingang na die woonstelblok versper.

Die rommelhoop, met ’n geskatte gewig van by die twintig ton, is oor die jare deur Xu versamel. Hy het glo ’n geneigdheid om rommel op straat op te tel en dit dan huis toe te neem.

Volgens berigte in plaaslike mediabronne het die man se kinders gedink hul pa is besig met herwinning, tot hulle besef het die gemors hoop net op.

’n Buurman het gesê die “ou man is effe van lotjie getik. Sy familie is baie bekommerd oor hom. Ons het probeer om hom te kry om nie meer rommel te versamel nie, maar die volgende dag sal hy net sy gewoonte hervat.”

Hierdie gedrag gaan al glo vir die laaste dekade aan. Tot sy kinders hierdie week besluit het basta met hul pa se obsessie met rommelversamel.

Hulle het ’n opruimingsspan ingeroep wat die 20 ton rommel oor twee dae verwyder het.

Bron: The Daily Mail; First To Know