Die twintigjarige Isaac Mashonga het vroeg Vrydagoggend sy 40-jarige suster, Dadirai, in Zvipani in die noorde van Zimbabwe onthoof, nadat ’n plaaslike sakeman hom R52 000 ($4 000) vir ’n menskop aangebied het. 

Paul Nyathi, ’n polisiewoordvoerder, het aan die staatsradiostasie gesê die sakeman, wie se naam nie genoem word nie, het die kop benodig “om sy besigheid ’n hupstoot te gee. Mashonga het toe sy suster se kop afgekap nadat hy haar omstreeks 02:00 Vrydag met ’n byl vermoor het,” het hy aan ZBC gesê.

Mashonga het die kop aan die sakeman oorhandig, maar is in hegtenis geneem “nadat hy met ’n bloeddeurdrenkte hemp gewaar is”.

Menslike liggaamsdele  

Dit was nie dadelik duidelik of die sakeman ook in hegtenis geneem is nie.

Rituele moorde kom algemeen in die land voor. Sommige gewetenlose handelaars glo menslike liggaamsdele kan as gelukbringers dien en hul besighede winsgewender maak.

Verlede maand is ’n 22-jarige man van die suidelike dorpie Gwanda in hegtenis geneem nadat hy in besit van ’n hawelose man se kop en geslagdele gevind is. Die verdagte, Honest Moyo, het beweer dat ’n plaaslike sakeman hom R325 000 ($25 000) vir liggaamsdele aangebied het.

Moyo het in ’n videoverklaring, wat die staatsmedia gedeel het, gesê sy slagoffer was dood toe hy hom vind en “ek het gevat wat ek wou hê”.

’n Man (22) van die suide van Zimbabwe is in hegtenis geneem nadat hy na bewering sy 12-jarige broer vermoor het in ’n poging om ryk te word en ’n pragtige vrou te kry om mee te trou, het die Chronicle in Februarie berig.

Bron: News24