1. Stap Leeukop met volmaan uit

    Terwyl jy in die maanlig stap, kan jy die uitsig op Seepunt, Seinheuwel en die middestad bewonder. Bo van Leeukop af is ’n asemrowende blik op die oseaan en die stadsliggies, en natuurlik van die maan. Terwyl jy daar is, kan jy skemerdrankies en ietsie lekkers geniet.

    As jy redelik fiks is, sal die staptog sowat twee uur duur. Dis nie geskik vir kinders en bejaardes nie.

  2. Twee Oseane-akwarium

    Raak verlore in die skoonheid van die oseaan.

  3. Silwermyn

    Dis heerlik om piekniek te hou in hierdie pragtige deel van die Nasionale Tafelbergpark. Nog aktiwiteite daar is bergfietsry, voëlkyk, rotsklim en klim na ’n uitsigpunt met ’n blik op Valsbaai en Kaappunt.

  4. Nasionale Weskuspark

    Dié park strek van Yzerfontein tot suid van Langebaan en is net ’n uur se ry uit die Kaap uit. Dis ’n ware paradys vir liefhebbers van watersport soos snorkel, windsweef en kajak-ry.

  5. Nasionale Botaniese Tuin Kirstenbosch

    Bring ’n piekniekmandjie of geniet ’n opelugkonsert van ’n verskeidenheid Suid-Afrikaanse kunstenaars en orkeste. Oop tussen agtuur soggens en negeuur saans.

  6. Pink Flamingo-rolprentteater

    Fliek kyk in hierdie rolprentteater op die dak van The Grand Daddy-hotel is die perfekte keuse vir ’n somersaand. Maak jou tuis en geniet die koel briesie en ’n heerlike koue drankie.

  7. Die Iziko Suid-Afrikaanse Nasionale Kunsmuseum

    Dié kunsmuseum in die Kompanjiestuin het ’n goeie verskeidenheid kuns uit Suid-Afrika, Afrika, Brittanje, Nederland, Frankryk en België. Tydelike uitstallings van fotografie, beeldhouwerk, tekstiele, skilderye en argitektuur word gereeld afgewissel.

  8. Tafelberg-sweefspoor

    Tafelberg is een van Kaapstad se topbesienswaardighede en ook een van die nuwe sewe natuurwonders. Neem die kabelspoor teen die berg op, verken ons trots en geniet ’n pragtige uitsig oor die moederstad.

  9. Seepunt-promenade

    Enige somersdag is ideaal vir ’n wandeling hier. Dié 11 km lange wandelpad langs die Atlantiese kus is verfrissend, mooi en goed vir jou. Dis ’n goeie keuse, of jy hou van mensekyk of net op die gras wil lê en lees.

  10. Neus in die boeke

    Lees bly lekker, of jy dit in een van die baie biblioteke in die Kaap doen, of in jou eie slaapkamer. As jy ’n sonsoeker is, kan jy op die strand lees of op ’n bankie in ’n park. In die Boekesentrum in ’n Edwardiaanse gebou naby die Kompanjiestuin word boekbekendstellings en skryfwerkwinkels gehou en voorgelees uit digbundels en kinderboeke.

  11. Buffelsbaai en Bordjiesdrif in Kaappunt

    Kaappunt het van die hoogste deinings en varsste seelug ter wêreld. Dis ook die tuiste van ’n verskeidenheid diere, soos die Kaapse bobbejaan en Kaapse bergsebra. Grasbedekte piekniekplekke word omring deur strande en ’n paar veilige getypoele.

  12. Die Sentrum vir Maatskaplike Geskiedenis

    Dié sentrum is in Kerkstraat in die middestad. Keramiek, munte, meubels en tekstiele van oral in die wêreld word hier uitgestal.

  13. Kompanjiestuin

    Dié yslike openbare park en botaniese tuin in die hartjie van Kaapstad het ’n roostuin, Japanese tuin, visdam, voëlhok en Suid-Afrika se grootste aangeplante peerboom wat van 1652 dateer. Jy kan die voëls voer, piekniek hou of wandel.

  14. Langstraat

    Hier kry jy van winskopies tot ’n lewendige naglewe. Dis ook die ideale plek om die ryk Kaapse kultuur te beleef.

  15. V&A Waterfront

    Die moontlikhede is legio. Van snuffelwinkels tot uitstekende restaurante, tot die klanke van die hawe tot die amfiteater waar plaaslike kunstenaars naweke optree; die V&A Waterfront sal jou goed besig hou.

  16. Oudekraal

    Oudekraal is tussen Kampsbaai en Llandudno, teen die Twaalf Apostels. Die piekniekplekke onder melkhoutbome is ideaal vir gesinspret.

  17. Parlement

    Neem ’n begeleide uur lange toer van die Parlementsgebou en leer ken die geskiedenis van die parlement, sy funksie en hoe dit werk. Jy kan ook van die openbare galery na debatte luister.

  18. Vlaeberg

    Jy kan betyds opdaag vir die bekende kanonskoot om twaalfuur smiddae of jy kan in jou motor sit en die stad bewonder.

  19. The Clay Cafe

    Raak kreatief en geniet ’n heerlike interaktiewe uitstappie saam met jou kinders. The Clay Cafe in Houtbaai verskaf stukke keramiek waarop julle kan verf en glasuur die eindproduk vir jou. Daar is ook ’n verskeidenheid koek en drinkgoed te geniet.

  20. Imizamo Yetho-woongebied

    Verken die ryk kultuur van Imizamo Yetho in Houtbaai en ondersteun die plaaslike kunstenaars.

Bronne: capetownmagazine.com, uncoverthecape.co.za, safarinow.com, granddaddy.co.za, tablemountain.net, news24.com, claycafe.co.za, citysightseeing.co.za

-Faiza Mallick