Nie een van die twee kinders was ten tye van die ongeluk vasgegord of in ’n motorstoeltjie nie. Die seun is deur omstanders uit die voertuig gehelp terwyl sy sussie uit die motor geslinger is en op die pad beland het. Hul ma het wonderbaarlik ontkom met geringe beserings.

Volgens ooggetuies het die botsing gebeur omdat een van die twee voertuie nie by ’n kruising gestop het nie.

Volgens Chris Botha, Netcare 911-woordvoerder, is die seuntjie op die toneel aan ’n ventilator gekoppel en vir die vlug na die hospitaal gestabiliseer. Sy kritiek beseerde sussie is na dieselfde hospitaal geneem onder die volgehoue toesig van ’n gevorderde lewensondersteuningsparamedikus.

Die kinders se ma is ook deur paramedici van ’n ander nooddiens vir verdere mediese sorg na ’n hospitaal geneem.