Dié groep is glo hard aan die werk nadat hulle pas verlede jaar hul vierde album, Four, bemark het.

Ná ’n kort blaaskans vir Kersfees, is Harry Styles, Liam Payne, Niall Horan, Zayn Malik en Louis Tomlinson terug op die pad met hul gepas getitelde On The Road Again-toer in Februarie. Die vakansie is regtig verby vir die groep wat glo besig is in die ateljee met hul volgende liedjies. Dit kom aan die lig ná baie gegis dat die ouens elkeen sy eie rigting sou inslaan.

'Soos gewoonlik sal die ouens individueel of in pare gaan werk aan die liedjies.'

Iemand in die binnekring het aan The Sun gesê dat daar ’n bietjie twyfel was oor wanneer die vyfde album uitgereik sou word, maar ten spyte van die ongegronde bespiegeling was daar nooit enige twyfel dat dit wel uitgereik sou word nie.

“Aanvanklik het die ouens gedink dat hulle dalk meer tyd weg van die ateljee wou hê omdat hulle besig was om Four te bemark.”

“Maar hulle brand om terug by hul opnames te kom omdat dit is waarvoor hulle lief is; daarom gaan alles volstoom voort.”

Om te verhoed dat hulle te ver uit hul gemaksone beweeg, gaan One Direction saam met medewerkers werk wat hulle goed ken, Wayne Hector en Julian Bunetta. Wayne het in die verlede gehelp met die skryf van die groot treffers Best Song Ever en Steal My Girl.

Soos gewoonlik sal die ouens individueel of in pare gaan werk aan die liedjies.

“Dit is ’n formule wat voorheen gewerk het en dit is hoe die ouens daarvan hou om te werk,” het die bron gesê.

“Ná amper vyf jaar saam, is hulle baie in beheer van hul klank en die kreatiewe proses.”

© Cover Media