One Direction sê hulle het hul beste album tot dusver opgeneem. Die groep, wat bestaan uit Harry Styles, Louis Tomlinson, Zayn Malik, Liam Payne en Niall Horan, se jongste album, Four, word op 17 November uitgereik.

Dis hul vierde album en vanjaar is ook hul vierde bestaansjaar nadat hulle in 2010 tydens die Britse weergawe van The X Factor bymekaargekom het.

Die ouens het ’n ateljee laat bou wat saam met hulle vervoer is sodat hulle maklik kon skryf terwyl hulle op die pad is. Hulle het wêreldwyd opgetree met hul toer Where We Are, wat in April in Colombië begin het en in Oktober in Miami klaarmaak. “Hulle het individueel en in verskillende groepe saam ook geskryf,” sê die bron.

En die goeie nuus vir One Direction-aanhangers is dat die groep aangekondig het dat hulle een van die liedjies gratis beskikbaarstel. Die liedjie Fireproof, wat Liam en Louis geskryf het, was 24 uur lank beskikbaar om gratis af te laai.

Die ouens het ook onlangs gehoor hulle het ’n plek in Guinness World Records losgeslaanm toe daar aangekondig is dat hulle die eerste groep is wie se eerste drie albums boaan die trefferlyste in Amerika hul debuut gemaak het.

“Dis beslis een van ons trotsste oomblikke, vir onsself en vir ons ongelooflike aanhangers. Wanneer ons ook al daaroor praat, sê ons altyd hoe koel dit is dat ons dit eerste reggekry het!” het Niall oor hul prestasie gesê.

© Cover Media