Big Concerts het vanoggend bekendgemaak die groep, wat uit Niall Horan, Zayn Malik, Liam Payne, Harry Styles en Louis Tomlinson bestaan, kom volgende jaar in Suid-Afrika optree.

One Direction sal drie optredes hê, twee in die FNB-stadion in Johannesburg en een in die Kaapstad-stadion. Die optredes is deel van hul 2015-wêreldtoer. One Direction was die eerste groep wat dit kon regkry dat al drie hul albums bo-aan die Amerikaanse Billboard-trefferlys debuteer. Hulle het vroeër vanjaar aanhangers in Suid-Amerika gaande gehad toe hulle vir die eerste keer op dié vasteland optree.

Die gewilde groep is gestig nadat hulle saam aan die Britse werklikheidsprogram The X-Factor deelgeneem het. Sedertdien ken hul gewildheid geen einde nie – die groep het byna 19 miljoen aanhangers op Twitter en meer as 30 miljoen op Facebook.

Die Suid-Afrikaanse toerprogram lyk so:

  • Johannesburg: Saterdag 28 Maart 2015 by die FNB-stadion
  • Johannesburg: Sondag 29 Maart 2015 by die FNB-stadion
  • Kaapstad: Woensdag 1 April 2015 by die Kaapstad-stadion

Kaartjies kan van Vrydag 23 Mei om negeuur die oggend by Computicket gekoop word. Al die inligting vir kaartjieverkope is by bigconcerts.com beskikbaar.

- Suzaan Hauman