Die groep was op ’n wipwarit sedert Zayn Malik in Maart bekendgemaak het hy verlaat hulle. Harry Styles, Niall Horan, Louis Tomlinson en Liam Payne moes toe hul huidige toer as ’n viertal voortsit.

Dit is nie verbasend dat dit hulle ingehaal het nie en ’n bron beweer hulle wil so gou moontlik batterye herlaai. “Die groep sal ’n blaaskans neem nadat hulle die vyfde album volgende jaar bemark het, moontlik met ’n aantal verhoogoptredes wêreldwyd,” het die bron aan die Britse koerant The Sun verklap. “Simon Cowell ondersteun wat hulle moet doen, want hy wil hê die groep moet so lank moontlik in die een of ander vorm bymekaar bly.

'Hulle werk al vyf jaar onophoudelik.'

“Hulle werk al vyf jaar onophoudelik, het miljoene albums verkoop en van die grootste bekendes ter wêreld geword. In ’n stadium moet hulle ’n tree terug gee en oorweeg wat hulle volgende wil doen.

“Wat amper seker is, is dat daar volgende jaar geen 1D-musiek sal wees nie.

Sedert Zayn die groep verlaat het omdat hy glo die lewe as “ ’n gewone 22-jarige” wil geniet, bespiegel mense oor wie volgende die handdoek sal ingooi.

Volgens ’n ingeligte kan die beweerde dreigende blaaskans regtig die bal aan die rol sit.

“Die werklikheid is dat wanneer ’n seunsgroep ’n blaaskans neem, is dit dikwels die begin van die einde. Hulle is nou volwassenes en het hul eie belangstellings,” sê die bron.

“Niall, Louis en Liam sal ná die blaaskans weer wil bymekaarkom, maar die groot vraagteken hang oor Harry, wat baie moontlikhede het.”

Maar die seuns sê almal hulle bly gefokus op One Direction en hul nuwe album.

© Cover Media