Peters is die 18 maande oue Jeremiah se ma, Abigail Ruiters, se kêrel. Abigail is voorheen aangekla van nalatigheid, maar staan ook nou tereg vir sy moord.

Dié inligting is ook Woensdag in die Kaapstadse landdroshof gehoor.

Luidens berigte het Peters 'n beseerde Jeremiah verlede week na ’n kliniek in Factreton geneem. Die kind het aan sy wonde beswyk, en die gesondheidswerkers het gevolglik die polisie gekontak.

Volgens die polisie het Jeremiah beserings aan sy kop en liggaam gehad.

Later is ook beweer die kind het steekwonde gehad. Die polisie wou nie dié bewerings bevestig nie.

Die beskuldigde het na Jeremiah en sy driejarige sussie omgesien terwyl Abigail by die werk was. Abigail het ook ’n agtjarige dogter en verwag tans haar vierde kind.

Abigail was geskok oor die verkragtingsklag teen haar kêrel, berig Netwerk 24.

“Wat het jy aan my kind gedoen?” wou sy glo weet voor sy in trane uitgebars het.

Adiel Jansen, die staatsaanklaer, het die aansoek om borgtog vir albei beskuldigdes teengestaan.

“Hoewel albei eerste oortreders is en daar geen ander hangende sake teen hulle is nie, staan hulle op ernstige aanklagte tereg,” het Jansen gesê.

Die saak is tot 5 Julie uitgestel. Abigail kan glo nie Saterdag haar kind se begrafnis bywoon nie.

Bron: Netwerk 24