Haar ma, Nicole Sifrit, van die Amerikaanse deelstaat Iowa, het die nuus Dinsdag op Facebook bekendgemaak.

“Ons prinses, Mariana Reese Sifrit, het vanoggend haar engelvlerke in haar pa se arms gekry, met haar ma reg langsaan. Sy ly nou nie meer nie en is by die Here. Dankie vir elkeen wat ons reis gevolg en ons ondersteun het. 

“In haar 18 dae het sy ’n groot impak in die wêreld gemaak en ons hoop dat ons deur Mariana se storie talle lewens sal bereik. Rus in vrede, klein engel,” skryf Nicole.

Kort voor Nicole en haar man, Shane, se troue is klein Mariana op 1 Julie gebore. Volgens Whotv.com het die paartjie net twee ure ná hul huweliksbeloftes aan mekaar agtergekom daar is groot fout met hul pasgebore dogtertjie. 

“Ons het agtergekom dat sy nie eet of wakker skrik as ons haar probeer wakker maak nie,” vertel Nicole aan Whotv.com

Terwyl gaste nog gesellig by hul troue vertoef het, het die egpaar dadelik hospitaal toe gejaag en uitgevind dat Mariana ’n virus genaamd herpes-breinvliesontsteking opgedoen het.

Dit is ’n koosblaarvirus wat nie noodwendig ’n oop seer nodig het nie. “Hulle raak aan haar en dan vat sy aan haar mond met haar hand,” vertel Nicole.

Nicole en Shane is negatief getoets vir die virus, wat beteken Mariana het dit van iemand anders gekry. 

“Ek het altyd gedink hierdie goed gebeur, maar nooit gedink dit sal met my gebeur nie. Ek was glad nie voorbereid nie,” vertel Nicole. 

Prof. Wolfgang Preiser, hoof van die afdeling geneeskundige virologie aan die Universiteit Stellenbosch se fakulteit geneeskunde en gesondheidswetenskappe, sê sulke gevalle kom wel voor, maar gelukkig selde

“Die tipiese scenario is wanneer die ma herpes simpleks-virus-negatief (met ander woorde onbesmet) is, wat beteken die baba sal nie beskermende moederteenliggame hê nie, en dan word die baba besmet weens blootstelling aan iemand met bloesende (aktiewe) herpetiese letsels – soos ’n soen van ’n oom (wat gewoonlik koorsblare het, maar nie altyd nie).

“Hierdie goed gebeur en is tragies (want tensy dit vroeg herken en behandel word, kan babas ernstig siek word en dikwels sterf), maar gelukkig is dit seldsaam,” sê Wolfgang.

Bronne: Whotv.com, TheSun.co.uk