’n Foto van die vlugteling wat passasiers op ’n trein met ’n byl en mes aangeval het, nou beskikbaar gestel. IS het ook intussen ’n bloedstollende video vrygestel waarin die jongeling, nou bekend gemaak as Muhammad Riyad, sê dat hy Duitsland gaan aanval in weerwraak vir lugaanvalle op die terreurgroep.

Daar is ook intussen bekend gemaak dat 19 mense hospitaalsorg moes ontvang. Twee van die slagoffers is kritiek en veg om hul lewens. Die byl wat Muhammad vir die aanval gebruik het, is ook gevind.

Vroeër vandag

Kort nadat die trein in Würzburg aangekom het, het ’n 17-jarige vlugteling van Afghanistan na bewering 20 passasiers aan boord van die trein met ’n byl en ’n mes aangeval. Onder diegene wat tydens die aanval beseer is, is ’n man (62), sy vrou (58), hul dogter (27) en haar vriend (31). ’n Sewentienjarige seun wat saam met die viertal as deel van ’n toergroep afkomstig van Hongkong gereis het, het ongedeerd daarvan afgekom. Luidens berigte het die pa en die meisie se vriend ander lede van hul groep teen die aanvaller probeer beskerm. Ooggetuies het die wa waarin die aanval plaasgevind het, as ’n slagveld en ’n slaghuis bestempel vanweë die hoeveelheid bloed wat oral sigbaar is.
Drie van die beseerdes se toestand word as ernstig bestempel, een het geringe beserings opgedoen en 14 word vir skok behandel.

Beiere se minister van binnelandse sake, Joachim Herrmann, het aangedui dat ondersoek ingestel word na wat die aanvaller tydens die aanval uitgeroep het. Sommige getuies beweer glo hy het “Allahu akbar” (God is groot) tydens die aanval geskree.

Daar is intussen bekendgemaak dat ’n handgetekende IS-vlag in die tiener se slaapkamer gevind is.

Hy is deur die polisie doodgeskiet toe hy van die toneel probeer vlug. Die aanvaller het as ’n onvergeselde tiener Duitsland binnegekom waarna hy eers in ’n skuiling gewoon het voor hy onlangs in pleegsorg op ’n nabygeleë dorpie, Ochensfurt, geplaas is.

Na beraming bevind sowat 1,2 miljoen vlugtelinge hulle tans in Duitsland, van wie 32 000 Afghaanse burgers is wat om asiel aansoek gedoen het. Meer as ’n 120 000 Afghaanse burgers woon sonder toestemming in Duitsland. Van hulle het moontlik na ander lande beweeg.

Volgens ’n studie wat in April deur die Fredrich Ebert-stigting publiseer is, het Duitsland fermer begin optree teen vlugtelinge en verklaar dat Afghaanse aansoekers om asiel wie se aansoeke verwerp word, gedeporteer sal word.

Bronne: bbc.com, telegraph.co.uk, irishnews.com, theguardian.com