Terwyl ’n familie van Tambof in die weste van Rusland, sowat 460 km suidoos van Moskou, salig onbewus lê en slaap het, het hul 17-jarige seun en broer na bewering stilletjies hul kamers binnegesluip en hulle glo een-een met ’n byl doodgekap.

Die plaaslike polisie het die skoolseun, Aleksander Kirejef, kort daarna aangekeer, berig Mail Online.

Beamptes het die bebloede oorskot van Aleksander se pa, Wiktor (43), sy suster, Wiktoria (14), en ouma, Wera (67), in hul beddens aangetref.

Hulle is na bewering aangeval met ’n byl. RT news berig Wiktoria en Wera het op die toneel beswyk, terwyl Wiktor later in die hospitaal oorlede is.

Mirror berig die seun se verhouding met sy familie het versuur ná sy ma se dood weens kanker drie jaar gelede. Aleksander het glo ook nie gehou van sy pa se nuwe meisie nie.

Maar dis nie wat Aleksander tot sy beweerde moordtog gedryf het nie. Die laaste druppel aan die emmer was toe Wiktor weier om Aleksander R45 000 (200 000 roebel) te leen.

Die polisie kon nog nie uitpluis waarvoor die skoolseun die klein fortuin wou hê nie, maar dit is bekend dat hy ’n probleem met aanlyn dobbelary het.

Bure vertel dat Aleksander kwaai terneergedruk geraak het ná sy ma se dood. Hy het hom glo heeltemal aan die samelewing onttrek.

“Hy het gesê dat God hom verraai het en dat hy teleurgesteld is in Hom,” het ’n vriend van die tiener aan ’n Russiese TV-kanaal gesê.

Aleksander het homself na bewering ’n “satanis” genoem en aan kennisse gesê hy wil “sy lewe verander”.

“Hy het gesê hy is ’n satanis; mag God sterf, ens.,” het ’n klasmaat bygevoeg.

Berigte dui daarop dat Aleksander dalk deel van ’n sekte was, maar dit is nog nie bevestig nie.

Intussen is hy in aanhouding terwyl die polisie die saak ondersoek.

Bronne: Daily Mail; Mirror; RT.com