Dit het laat Dinsdagmiddag bekend geraak dat nog twee tienerseuns in hegtenis geneem is vir die moord op Magda van Vuuren.

Vroeër vandag

Drie tieners is in hegtenis geneem nadat 'n vrou van die Baai tydens 'n motorkaping deur een van hulle geskiet is.

Volgens wat berig word, het Magda van Vuuren (53) Maandagmiddag by haar ma, Sally Potgieter (83), wat op die hoek van Diaz- en Kingstonweg in Adcockvale bly, gekuier.

Magda is rondom 14:25 genader deur iemand wat in 'n skooluniform geklee is. Hy was glo deel van 'n groep seuns wat in die omgewing was.

'n Skoot is afgevuur en daar het glo 'n rusie tussen haar en die ander persoon ontstaan. Volgens ao. Alwin Labans is nog twee skote afgevuur, waarvan een Magda in die rug getref het.

Die kaper het in haar BMW-motor weggejaag. Magda se ma, Sally, het glo die skokkende voorval aanskou.

Volgens Netwerk24 is 'n 16-jarige seun en 15-jarige meisie in Blouwaterbaai by Magda se motor opgespoor.

Dinsdag is die derde verdagte (16), vasgekeer. Die vermoede bestaan dat hy die een is wat die skote afgevuur het.

* Magda het laat-Maandagmiddag in die Livingstone-hospitaal beswyk. Sy was Sally se enigste kind. Die klag van poging tot moord is verander na 'n klag van moord.

Bronne: algoafm.co.za, netwerk24.com