Eliza Wasni (16) is as ’n volwassene aangekla nadat sy messe en ’n kapmes uit ’n Walmart in Chicago gesteel, Grant Nelson (34) as bestuurder bespreek en hom veelvuldige kere gesteek het terwyl hy bestuur het.

’n Beskrywing van die aanval, wat ’n aanklaer in die hof voorgelees het, het aangedui hoe Wasni Nelson aangeval het, maar nie redes vir haar grusame misdaad verskaf nie.

Nelson, van Wilmette, Illinois, het die tiener kort ná drieuur op ’n Dinsdagoggend voor die winkel opgelaai. Dit was die derde Uber-taxi wat sy daardie oggend versoek het. 

Minute nadat hy begin ry het, het Wasni Nelson van die agtersitplek af begin steek. Sy het hom ook tydens die aanval met die kapmes gekap.

Die bestuurder was ernstig beseer en het kwaai gebloei, maar daarin geslaag om af te trek en by ’n gebou daar naby in te hardloop terwyl hy om hulp roep. Inwoners het gehoor hy skree: “Help my, help my! Ek gaan sterf!”. Hulle het 911 gebel.

Intussen het Wasni in die bestuurdersitplek van Nelson se bebloede silwer Sedan geklim en weggejaag. Maar sy het teen ’n versperring in die pad gebots, uitgespring en te voet gevlug.

Die polisie van Lincolnwood het op die ongelukstoneel afgekom. Binne-in die voertuig het hulle Nelson se foon met die Uber-app oop gekry. Dit het getoon sy passasier was iemand met die naam Eliza.

Die polisiebeamptes het ’n bewuste, maar kritiek beseerde Nelson gekry waar hy in die gras lê. Hy kon verduidelik wat gebeur het.

Nelson is ’n paar uur later in die Presence St. Francis-hospitaal dood.

Die polisie het Wasni gekry waar sy agter ’n lugversorgerboks wegkruip met ’n kapmes in die een hand en ’n mes in die ander.

Sy moes met ’n skokstok geskok word voor sy die wapens laat val het en in hegtenis geneem kon word.

“Ons is gebroke oor die verlies van een van ons vennote,” het Uber in ’n verklaring gesê.

“Ons innigste meegevoel en gebede is met sy familie en geliefdes in hierdie ongelooflik moeilike tyd.”

Alex Nelson, Nelson se suster, het aan WMAQ-TV gesê haar broer het nie verdien om op so ’n grusame wyse te sterf nie.

“Hy was nie ’n haatdraende mens nie,” het sy gesê. “Hy was nie ’n wrede mens nie. Hy het hierdie lot nie verdien nie.”