Altesaam 15 laerskoolleerders van Naidooville, naby Umkomaas in KwaZulu-Natal, het Woensdag onder ’n kwaai swerm bye deurgeloop.

[caption id="attachment_122393" align="alignnone" width="600"]Foto: pixabay.com Foto: pixabay.com[/caption]

Die kinders is hoofsaaklik op die kop en hande gesteek, het Chris Botha, ’n Netcare 911-woordvoerder, in ’n verklaring gesê.

Volgens Chris is die kinders ondersoek en almal was in ’n stabiele toestand. “Gelukkig het niemand ’n erge allergiese reaksie getoon nie.”

’n Seun het glo ’n klip gegooi na ’n swerm bye wat aan ’n tak gehang het. Dit is toe dat die bye die kinders begin steek. Van hulle het na berig word tot 20 steke opgedoen.

Chris sê sodra een by steek, word ’n chemiese stof afgeskei wat die teken is vir die ander bye om ook aan te val.

Hy waarsku mense om versigtig te wees vir bye.

Volgens die Allergiestigting van Suid-Afrika is daar talle maniere om bysteke te voorkom en te behandel.

  • Vermy parfuum, vrugte en vrugtesap wanneer jy ’n somersdag buite geniet. Onthou ook dat bye aangetrokke is tot helder kleure teen ’n donker agtergrond.
  • As ’n by jou wel steek, gebruik jou nael of ’n skerp voorwerp en krap dadelik die angel uit. Probeer om nie die angel te druk nie – daar is gewoonlik nog gif in wat jy dan in die wond inspuit.
  • Neem kennis: Steke tot die kop en nek is gevaarliker aangesien die gepaardgaande swelling asemhaling kan bemoeilik.
  • Vir ’n matige allergiese reaksie bly die beste om ’n antihistamien toe te dien.
  • Diegene met ’n allergie vir bysteke moet geleer word om anafilaksie vroeg raak te sien, asook hoe om te onderskei tussen ’n ernstige en matige reaksie en daarvolgens te reageer.
  • Hulle moet ten alle tye ’n epinefrienspuit (gelaai met adrenalien) byderhand hê en ’n wakende oog hou op die vervaldatum.
  • Goeie nuus is dat een immunoterapie-kursus teen bygif kan lei tot 96% beskerming teen ernstige allergiese reaksies in die geval van toekomstige bysteke.