Nadat hul identiteit eers weerhou is, het die polisie nou onthul wie dié paartjie is. 

Kim Edwards en Lucas Markham (nou 15) is die tieners wat die “teregstelling” uitgevoer het op Elizabeth (49) en Katie Edwards (13) – Kim se ma en suster. Hulle het nog geen berou getoon nie.

Katie Edwards(13)
Elizabeth Edwards(links) saam met ’n vriend

Nadat Kim vir Lucas aangespoor het, het hy Elizabeth en Katie herhaaldelik met ’n kombuismes in die nek gesteek in hul huis in Spalding, Lincolnshire, Engeland.

’n Nog skokkender onthulling is dat die twee (toe 14) in die 36 uur ná die moorde in April verlede jaar seks gehad, ’n bad geniet en vier Twilight-flieks gekyk het. 

Toe die polisie op Kim en Lucas afkom, het hulle onder ’n duvet voor die televisie gelê terwyl die bebloede lyk van haar ma en suster nog op die boonste verdieping was.

In sy getuienis tydens die verhoor in die Nottingham-kroonhof het die forensiese psigiater Philip Joseph getuig Kim het hoegenaamd geen berou getoon dat sy haar ma vermoor het nie. 

Tydens ’n sessie van twee en ’n half uur in September verlede jaar om haar geestestoestand te bepaal, het die jeugdige gesê: “Ek mis nie my ma nie en ek is bly sy is dood, al is ek nou in ’n moeilike situasie. 

“Sy het dit verdien. Ek is bly sy is dood. Ons het rustig gevoel oor wat ons gedoen het en nie een van ons het sleg gevoel daaroor nie.”

Maar sy het bygevoeg sy voel ’n bietjie hartseer oor die neem van haar 13-jarige suster se lewe. 

“Dis regtig heel duidelik haar haat vir haar ma het (haar optrede bepaal),” het adv. Peter Joyce in die hof gesê. 

Al het Kim sowat ’n maand voor die moorde haar eie lewe probeer neem, het die jurie ’n bewering verwerp dat sy aan ’n geestesafwyking ly wat haar vermoë kon aangetas het om verstandige besluite te neem. 

Die twee is tronkstraf van minstens 17 en ’n half jaar elk opgelê.

Bronne: news.sky.com, metro.co.uk, standard.co.uk