Volgens die polisie het Anna Schroeder haar ma, Peggy (53), Donderdag met ’n vuurwapen ingewag.

Toe haar ma by die huis opdaag, het Anna haar gevra om ’n handdoek oor haar kop te sit voor sy haar geskiet het, berig Sauk Valley News.

Volgens die speurder wat die tieners se verklarings afgeneem het, het Anna net ná die voorval haar vriendin Rachel Helm (15) in kennis gestel van die moord. Rachel het haar egter nie geglo nie, waarna Anna ’n foto van haar ma se lyk gestuur het. 

Rachel se ma het haar by die Schroeder-huis afgelaai waar die meisies die mat probeer skoonmaak het. 

Luidens die verklaring het hulle in Anna se kamer gaan slaap en toe eers die volgende oggend Peggy se lyk geskuif om die mat verder skoon te maak. 
Die meisies het toe besluit om iets te ete te gaan kry, skoonmaakmiddels te koop en hulle hare te kleur, met die plan om te vlug. 

Saterdagoggend is die huis aan die brand gesteek om alle bewyse te vernietig. Die meisies het toe na ’n begraafplaas geloop om Anna se selfoon en vuurwapen weg te steek.

Anna het na haar pa, Daryl Schroeder, se huis gegaan en Rachel het teruggekeer na haar gesin. 

Bure het Saterdagmiddag die reuk van brandende plastiek aangemeld waar Penny se lyk toe gevind is. 

Rachel, oorweldig deur skuldgevoelens, het haar ma vertel wat hulle gedoen het en alles aan die speurder uitgelap.

Anna het kort daarna ’n ontstellende boodskap aan haar ma op Facebook geskryf.

“Ek weet nie eens of jy my kan sien nie, maar ek wil hê jy moet weet jy was my beste vriendin. Daar is soveel goed wat ek wou sê en saam met jou gedoen het. Ek was nie altyd die beste dogter nie en ek is so jammer. Ek is so lief vir jou ma, ek wil hê jy moet dit weet en ek sal jou nooit vergeet nie,” skryf Anna.

Anna en Rachel is albei in hegtenis geneem en kom eersdaags voor. 

Bronne: Thesun.co.uk, Saukvalley.com, News.com.au, NYpost.com.