Hoewel die uitspraak reeds op 24 Maart 2016 gelewer is, is dit nou eers bekendgemaak. Dit het tot ernstige besprekings oor die gesinswette in Duitsland gelei.

"Die hof bied geen mening aan oor die nieregspreeklike vraag of 'n 47-jarige, getroude man die liefde van 'n 15-jarige, aangevuur deur adolessente toenadering en geesdrif, kan beantwoord nie," was die hof se uitspraak. Maar daar is ook gesê dat die hof nie die twee se gedrag noodwendig goedkeur nie.

Die hof het ook aangedui dat sy reeds 15 is en dat haar wense in ag geneem moet word.

"Die verhouding is dalk sosiaal onaanvaarbaar , maar dit word nie deur kriminele wetgewing gedek nie. Daarom kan dit nie kategories verbied word nie," het die hof voorts aangedui.

Die meisie, vir nou eers net bekend as Josephine, was net 14 jaar oud toe sy en haar oom verlede jaar landuit vlug. Die polisiesoektog na die paartjie is afgelas nadat sy geweier het om die verhouding te beëindig.

Volgens die Duitse koerant Bild is die man, 'n argitek bekend as Gerrit H., haar eie oom. Die twee het met die man se Caravelle-mikrobussie gevlug nadat hy glo aan 'n vriend van hom, bekend as Hans H., vertel het dat hy vir 'n paar dae wil wegkom "weens spanning met sy vrou" en dat hy die voertuig by die vriend se huis gaan haal wat hy daar parkeer het. Dit was opsig self nie ’n vreemde gesprek nie; Gerrit is immers getroud en hulle het twee kinders. Intussen het Josephine na bewering die oggend van 6 Maart sonbrandmiddel, haar ID en klere in 'n blou skouersak gepak, asof sy reg is vir skool. Maar sy het nooit by die skool opgedaag nie.

Een van haar skoolmaats was bewus van haar geheime verhouding met haar oom. Toe Josephine se ouers haar die middag konfronteer nadat Josephine nie by hul huis opgedaag het nie, het sy erken dat die verhouding tussen die twee reeds toe reeds 18 maande aan die gang was.

Haar pa, Gerhard, het die paartjie se verdwyning destyds eers as ’n fout afgemaak, en gesê volgens die familie was die verhouding tussen sy swaer en sy dogter ’n "normale oom-niggie-verhouding”.

Sy het selfs op ’n keer ’n oulike outjie van haar eie ouderdom as haar vriend aan haar ouers voorgestel. Min het hulle geweet dit was bloot ’n rookskerm.

Die paartjie is weldra in die suide van Frankryk opgespoor. Josephine se ouers wou 'n hofbevel teen haar oom kry op grond daarvan dat die kontak tussen die twee haar welstand sou benadeel. Maar in die hofuitspraak is gesê die verbreking van kontak tussen Josephine en Gerrit kan tot ernstige skade in haar sosiale, emosionele en verstandelike ontwikkeling lei. Volgens Bild" target="_blank">Bild kan Gerrit H. gestraf word as hy seks met Josephine gehad het voor sy 14 jaar oud geword het. Dr. Andreas Fricke het aan die koerant gesê dat dit op seksuele misbruik van 'n minderjarige neerkom en dat dit tot 10 jaar gevangenisstraf kan lei. As dit ná haar 14de verjaardag gebeur het, kom dit op uitbuiting neer. Die straf daarvoor kan tot drie jaar beloop. Die ouderdom vir wettige seksuele toestemming in Duitsland, sowel as talle ander Europese lande, is 14 jaar.

"Maar as die meisie uit eie vrye wil met hom saamgegaan het, is geen misdaad ter sprake nie," het hy gesê.

Dr. Werner Platz, ’n Berlynse psigiater, het gesê dat Josephine na alle waarskynlikheid voel Gerrit erken en waardeer haar.

Hy bestempel Josephine en Gerrit se geval as soortgelyk aan talle ander waarin ’n ouer man ’n jong meisie “onderwerp”. Dat hy haar jeug “steel”, skeel hom nie.

Dis maklik om die bewondering van jong meisies te kry, meen Werner.

Hy het verwys na goedkoop truuks wat ingespan word om die slagoffer te laat hoor wat hy/sy wil hoor, soos: “Jy’s al wat ek het. Jy gaan vir altyd by my moet bly.”

Bronne: nypost.com, bild.de, mailonline.co.uk, telegraph.co.uk, dailysabah.com, bz-berlin.de