Vyftien mense is dood in ’n padongeluk naby die stad Bulawayo in die suide van Zimbabwe – en dit glo te wyte aan ’n slaggat, is Donderdag berig.

Van die slagoffers is ure lank onder die wrakstukke vasgekeer ná ’n botsing laat Woensdag tussen ’n vragmotor en ’n minibus naby die Nasionale Universiteit van Wetenskap en Tegnologie, volgens die staatsbeheerde dagblad Chronicle. Die vragmotor se bestuurder het aan die Zimbabwiese staatsuitsaaier (ZBC) gesê hy het ’n slaggat getref en beheer oor die voertuig verloor. ’n Minibus het toe met die vragmotor gebots. Volgens die ZBC het 15 mense gesterf. Padgebruikers in Zimbabwe kla steen en been oor die paaie se dubbele gevaar van slaggate en polisiepadblokkades. Einde Januarie het Onismor Bhasera, ’n verdediger in die land se nasionale sokkerspan, ’n ernstige ongeluk oorleef nadat sy BMW ’n slaggat naby die dorpie Birchenough Bridge getref het, het die Soccer24-webtuiste van Zimbabwe berig.

Intussen moes die vlieënier van ’n huurvliegtuig Dinsdagaand in Bulawayo ’n buiklanding uitvoer nadat die vliegtuig ’n meganiese fout ontwikkel het, berig die Chronicle. Luidens die berig het drie mense ongedeerd uit die Beechcraft Baron 58 gekom.

Sowat 14 mense is gisteraand op slag dood nadat ’n vragmotor op die pad tussen Bulawayo en Gwanda ’n slaggat getref en met ’n Kombi gebots het.

Bron: News24