’n Boeing 737 wat aan die Peruviaanse lugdiens behoort, het Woensdag omstreeks halfvyf (Peru-tyd) aan die brand geslaan toe dit die aanloopbaan tydens landing byster raak. Luidens gerugte was 141 passasiers aan boord. Almal het betyds en feitlik ongedeerd die brandende vliegtuig ontruim. Minstens 26 mense, waaronder ’n kind, het geringe beserings opgedoen.

  Die maatskappy het bevestig dat die Boeing 737-300 tydens die landing op sy regterkant te lande gekom en van die aanloopbaan gegly het. Die voorval het by die Francisco Carlé-lughawe in Jauja, Peru, gebeur.
Verbysterde passasiers en omstanders kon hulle nie van die skrikwekkende toneel van vlamme en rook losskeur nie en kon dit nie weerstaan om die vlammespel af te neem nie. Een van die passasiers, Jessica Núñez, het aan die plaaslike nuusdiens Canal N gesê dit het gevoel asof die vlieënier beheer oor die vliegtuig verloor het tydens landing. Die regtervlerk het afgebreek en die brand het gevolg. Die lugdiens het die bemanning geloof vir hul vaardigheid en hoe hulle die passasiers ontruim het sonder dat enige ernstige beserings daaruit voortgespruit het.

Bronne: rt.com, radiosalta.com.ar