Minstens twee swaar gewapende persone het gister by 'n gemeenskapdienssentrum vir gestremde persone in San Bernadino, sowat 100 km oos van Los Angeles, ingestorm en op mense losgebrand.

Die gemeenskapdienssentrum was besig met hul jaarlikse kerspartytjie toe die gewapende persone, vermoedelik 'n man en 'n vrou, die saal ingekom het en voor die voet mense begin skiet het. Veertien persone is gedood en 'n verdere 17 is gewond. Die verdagtes het in 'n voertuig van die toneel probeer vlug, maar is ná 'n jaagtog deur die polisie voorgekeer. 'n Konfrontasie tussen die polisie en die verdagtes het op nog 'n skietery uitgeloop waarin albei die verdagtes ook doodgeskiet is.

Aanvanklik is daar gedink dat daar nog 'n derde skieter betrokke was, maar die polisie het intussen bevestig dat dit wel net twee was. Hul name is ook bekend gemaak as die 28-jarige Syed Rizwan Farook en die 27-jarige Tashfeen Malik. Syed en Tashfeen was romanties betrokke en moontlik getroud. Sayed het as gesondheidsinpekteur in die stad gewerk.

Die motief vir die voorval is nog onduidelik.

Bronne: LA Times; CNN; BBC