Haar seuntjie het nog gelewe toe sy hom aantref waar hy naby die kruising van Main Reef- en Chamdor-weg in Krugerdsorp by ’n bewegende trein uitgeval het.

Klein JC van Loggerenberg het die vorige aand by ’n maat se huis oorgeslaap en was saam met hom met die trein op pad skool toe om hul rapporte met hul skooluitslae te gaan haal toe JC net voor agtuur die oggend by die trein uitgeval het. Hulle was leerders by Roodepark-skool in Roodepoort.

Sy maat het dadelik by ’n spoorwegbeampte hulp gaan vra en saam met ’n beampte na die Van Loggerenbergs se huis in Mindalore gery om JC se ma te gaan roep. Annelize het haar na die toneel gehaas en daar aangekom terwyl JC nog gelewe het. “Hy het nog gelewe toe ek op die toneel aankom. Hy was yskoud, toe trek ek my baadjie uit en gooi dit oor hom,” vertel sy in trane. “Hy het gesê ‘Mamma’, maar ek het hom stilgemaak en gevra om sy krag te spaar omdat die ambulans al op pad was.”

Haar seuntjie is kort daarna dood. Toe nooddienswerkers enkele minute later met ’n ambulans opdaag, was dit te laat.

Annelize vertel JC was opgewonde om sy skooluitslae te kry omdat hy uitgesien het om na die volgende skoolvlak te vorder. Boonop kon hy nie meer wag vir die vakansie nie: hy en ’n maat het beplan om by die Vaalrivier te gaan visvang.

jc

Dit is nog nie duidelik hoe JC by die trein uitgeval het nie, maar Annelize vertel haar seun en sy maat is van mekaar geskei kort nadat hulle die oggend by die Luipaardsvlei-treinstasie op die propvol trein geklim het.

Toe die trein by die volgende stasie, Witpoortjie, intrek, het ’n passasier vir JC se maat vertel hy het gesien hoe JC by die trein uitval. Die maat het dadelik uitgeklim en spoorlangs tot by JC gehardloop. Die spoorwegpolisie was toe reeds op die toneel en die maat het hulle na Annelize se huis geneem.

Sers. Tshepiso Mashale van die Krugersdorp-polisie het vroeëer bevestig dat JC by die trein uitgeval het.

“’n Geregtelike doodsondersoek is by die Krugersdorp-polisie geopen nadat ’n lyk van ’n skoolseun vanoggend op die treinspoor aangetref is,” het Mashale bevestig.

Annelize sukkel nog om die nuus te verwerk. Haar stem kraak weer wanneer sy sê: “My hart is in stukke . . .”