Elvis Presley, from facebook.com/elvis

Dis vandag presies 36 jaar vandat die koning van rock ons verlaat het. Terwyl duisende kanniedood-aanhangers van oor die wêreld hul pelgrimstog na Graceland maak om aan hom hulde te bring, het ons gedink ons sal die geleentheid op ’n effens minder fanatiese wyse herdenk. Hier is 13 dinge wat jy (waarskynlik) nie van Elvis Presley geweet het nie:

  1. Elvis het ’n doodgebore identiese tweelingbroer genaamd Jessie gehad.
  2. Een van sy voorsate was ’n Cherokee (’n inheemse Amerikaner).
  3. Elvis het op 10 vyfde gekom by die Mississippi-Alabama-kermis-en-suiwelskou se jeugtalentkompetisie.
  4. Hy het sy eerste kitaar op sy 11de verjaardag gekry. Hy wou eintlik ’n fiets hê, maar sy ouers kon nie een bekostig nie.
  5. Sy pa, Vernon, was agt maande in die tronk omdat hy ’n tjek verander het.
  6. Ná hoërskool het hy ’n vragmotor vir die Crown Electric Company bestuur en kursusse begin loop om ’n elektrisiën te word.
  7. Ná ’n vertoning in Jacksonville, Florida, is hy deur ’n regter van ’n jeughof met inhegtenisneming gedreig omdat hy sy onderlyf in die rondte geswaai het. Die regter het gesê hy sal vir die res van sy vertonings net heen-en-weer bewegings duld.
  8. Hy het een keer saam met die Beatles LSD gebruik, met die hoop om sy “innerlike lig” te vind.
  9. Elvis se gunsteling-toebroodjie was blykbaar een met grondboontjiebotter, spek, piesang en heuning.
  10. Hy het 15 liedjies met die woord “blue” in die titel gemaak.
  11. Hy het eenkeer ’n vuurwapen na die Withuis geneem. Elvis, wat obsessief oor vuurwapens was, het vir oudpres. Richard Nixon ’n outydse handgeweer uit die Tweede Wêreldoorlog as geskenk gegee.
  12. Hy is twee keer begrawe. Sy liggaam is verskuif nadat mans dit ’n paar maande ná sy dood wou steel.
  13. Hy sou vanjaar 78 gewees het.

– Kirstin Buick

Bronne: musicradar.com, elvis.com, nation.time.com, vancouversun.com, deathandtaxesmag.com