Maar Katelyn Nicole Davis, van Cedartown in die Amerikaanse deelstaat Georgia, het op haar blog beweer haar stiefpa mishandel haar.

[caption id="attachment_154165" align="aligncenter" width="600"]Foto: Facebook Foto: Facebook[/caption]

Die tiener het besluit om haar eie lewe te neem deur haar op 30 Desember in die voortuin te hang. Sy het die ontstellende oomblik regstreeks uitgesaai.

Noodwerkers het daarheen gejaag om haar te kom help, maar Katelyn is met haar aankoms by die Polk mediese sentrum se noodeenheid dood verklaar, berig Fox 5.

Onder die gebruikersnaam ITZ Dolly het Katelyn ’n 10 minute lange videogreep op die stromings-app Live.me gedeel en medegebruikers het dit later op Facebook en YouTube versprei, berig Mashable.

Die Polk-distrik se polisiehoof, Kenny Dodd, het aan Fox gesê die polisie kan niks doen om te keer dat die ontstellende video aanlyn gedeel word nie.

“’n Polisiebeampte van Kalifornië het ons genader nadat hy dit op die aand van die voorval gesien het,” het Kenny gesê nadat die polisie oorval is met boodskappe, e-posse en foonoproepe van ontstoke mense wat eis dat die videogreep verwyder word.

“Om die familie se onthalwe wil ons dit ook bitter graag verwyder hê, ook omdat dit skadelik vir ander kinders kan wees. Ons het van die webtuistes genader. Hulle het gevra of hulle verplig is om dit te verwyder; regtens hoef hulle nie, maar eintlik behoort hulle uit ordentlikheid.”

’n Woordvoerder van Live.me het aan Mashable gesê die app het met Facebook en YouTube geskakel om die inhoud te help verwyder.

[caption id="attachment_154166" align="aligncenter" width="600"]Foto: Facebook Foto: Facebook[/caption]

Op haar blog, Diary of a Broken Doll, het ’n diep gekwelde Katelyn geskryf sy leef in ’n “swak omgewing” en slaap op ’n “ou geroeste matras”, berig The Daily Haze.

Op 27 Desember het sy in haar dagboek geskryf sy het haar stiefpa “die eerste keer in ’n ruk” gesien en beweer hy het haar mishandel.

“My stiefpa het baie goed aan my gedoen waarvoor ek nie voel ek hom kan vergewe nie. Hy het my liggaamlik, geestelik en verbaal mishandel. Hy het my met sy leerbelt geslaan wat silwer klinknaels het en seker gemaak die klinknaels tref my.

“Hy het my eenkeer so hard met die belt op my arm geslaan dat ek begin bloei het. Hy het selfs . . . Hy het my selfs probeer verkrag.”

Sy het ook beweer hy het haar aangeraai om haar “te hang” en “dood te maak”.

Kenny het aan Coosa Valley News gesê die polisie ondersoek Katelyn se bewerings van mishandeling.

Raad aan ouers

Selfdood onder jong mense neem toe – en dis grotendeels weens die druk van die sosiale media, sê die kenners.

Syfers wat die Suid-Afrikaanse Depressie-en-angsgroep (Sadag) onlangs uitgereik het, toon in Suid-Afrika is een uit 10 tienersterftes weens selfdood.

Terwyl die redes vir selfdood altyd ingewikkeld is, meen kenners die toenemende voorkoms van tienerselfdood hou verband met die onseker tye waarin ons leef en hoe die sosiale media ons lewe verander het.

Maar hoe kan jy agterkom jou kind sien nie meer kans om te leef nie?

  • Bly in voeling met jou kind. Sosiale media maak die tienerjare nog meer uitdagend. Kinders en ouers mag nie uiteendryf nie, iets wat kan gebeur selfs wanneer hulle in mekaar se geselskap is.
  • Ruim tyd in sodat jy en jou tiener sommer net kan gesels en jy ’n idee kan kry van wat in sy lewe aangaan, sê Tyrone Edgar, ’n sielkundige van Johannesburg.
  • Tieners moet voel hul ouers is daar vir hulle, selfs terwyl hul sin vir onafhanklikheid besig is om te ontwikkel. Onthou gereelde, alledaagse interaksies bevorder ’n vertrouensverhouding ewe goed as beplande samesyn.
  • Ouers moet ook met hul tieners praat oor die uitdagings van die sosiale media en hoe dit hul selfbeeld kan beïnvloed. Maak reëls oor hoe jou kind medegebruikers van die sosiale media moet behandel, beveel Tamara Zanella, ’n beradingsielkundige van Johannesburg, aan.

“Ouers moet byvoorbeeld vir hul tieners verduidelik hulle hoef niks te deel wat hulself of ander kan seermaak of verneder nie. Herinner hulle sodra iets geplaas is, kan hulle nie beheer wie dit deel nie.”

Bel Sadag by 0800-567-567 of stuur ’n SMS na 31393 van agtuur soggens tot agtuur saans, sewe dae per week.

Bronne: Mirror.co.uk, Mashable, Heavy, Fox 5, Coosa Valley News,The Daily Haze