Hy het Sondag aan sy wonde beswyk, die dag nadat die polisie gereageer het op ’n oproep oor ’n seun by ’n speelplek wat ’n pistool rondswaai wat “waarskynlik ’n speelding” is.

Die adjunkpolisiehoof Ed Tomba het gesê een beampte het twee skote afgevuur toe die seun die speelgoedwapen – sonder die oranje punt aan die einde van die loop wat dit as ’n speelding identifiseer – uitpluk, maar hy het dit nie op die polisie gerig nie.

Die seun het nie enige mondelinge dreigemente gemaak nie, maar het die speelgoedpistool uitgepluk toe die polisie sê hy moet sy hande opsteek, het Ed gesê.

“Dit is toe dat die beampte afvuur,” het hy gesê.

Cuyahoga County se mediese ondersoeker het die seun as Tamir Rice geïdentifiseer. ’n Prokureur vir sy familie, Timothy Kucharski, het gesê die seun is Saterdagmiddag saam met vriende na die park toe, maar hy weet nie van vie besonderhede wat tot die skietvoorval gelei het nie.

“Ek wil nie oorhaastig oordeel nie,” het hy gesê.

Die polisiedepartement stel ondersoek na die voorval in en albei beamptes is op administratiewe verlof, wat standaard praktyk is. Die streeksaanklaer se kantoor stel ook ondersoek in.

Timothy het gesê hy wil selfs met getuies praat en meer feite kry.

“Ons sal eindelik uitvind wat gebeur het,?” het Timothy gesê.

Die polisie het gesê die wapen was ’n replika-pistool wat soos ’n semi-outomatiese handwapen lyk. Die oranje punt aan die einde van die loop wat dit as ’n speelding identifiseer, is verwyder, het die polisie gesê.

’n Man wat die polisie ontbied het, het aan die telefoon-operateur gesê die seun sit op ’n swaai en met ’n pistool wat “waarskynlik ’n speelding” is en maak mense bang.

Die beller het gesê die seun pluk die pistool herhaaldelik by sy broek se lyfband uit. “Ek weet nie of dit ’n regte pistool is nie,” het die beller gesê.

Jeff Follmer, die voorsitter van die Cleveland-polisie se beamptevereniging, het gesê die polisiebeamptes is nie gesê die pistool kan dalk ’n speelding wees nie.

Die beampte wat ontbied is, het die pistool op ’n tafel of bank sien lê en het gesien hoe die seun dit gryp en by sy broek se lyfband insteek, het Jeff gesê.

Die Cleveland-polisie was in die afgelope paar jaar aan toenemende ondersoek.

Die Amerikaanse departement van justisie ondersoek hul praktyke.