Die 11-jarige seun wat die afgelope naweek op Lephalale in Limpopo deur ’n “mak” leeu aangeval is, veg verbete om sy lewe in die Mediclinic Muelmed-hospitaal in Pretoria.

Kristian Prinsloo is steeds in die waakeenheid aan ’n ventilator gekoppel nadat die leeu hom aan die keel gegryp het.

Volgens Netwerk24 was Kristian en sy ouma op ’n familievriend se plaas toe die leeu Kristian byt. Volgens die eienaar kry die leeu gereeld met mense te doen.

“Kristian se toestand is steeds kritiek,” sê Sanet Dippenaar, woordvoerder van die Mediclinic Muelmed-hospitaal.

“Daar was nog nie enige vordering sedert hy Sondag hy hier aangekom het nie. Hy benodig baie gebede,” sê sy.

Kristian het swelling op die brein en twee van sy nekwerwels is gekraak, sê Sanet.

Volgens haar staan ’n hele span dokters Kristian by. “Waar lewe is, is hoop.”

’n Facebook-groep is vir Kristian gestig en op dié blad word gereeld terugvoer gegee oor sy toestand.

Volgens Nico Strydom, Kristian se oom, wag hulle om van die dokters te hoor of daar enige vordering is.

Hy het gesê Kristian se ouers, Adri en Herman, is steeds te getraumatiseer om oor die gebeure te praat.

Intussen het boodskappe van hoop deur familielede en vriende op Facebook ingestroom.

“God is in beheer. Ons vertrou saam met julle as gesin,” het Charlene Nel geskryf.

“Ons bid elke dag dat Kristian vinnig sal herstel! Sterkte aan Adri en Herman en die hele gesin,” skryf Sandra van der Walt uit Brittanje.