Die 11-jarige Thali Hugo van Wellington in die Wes-Kaap het Woensdagaand die Kokkedoortjie-stoor vaarwel geroep ná die kinders die week koekies moes bak.

En kyk, dit raak nie makliker om die klein kokke te groet nie.

Thali sê sy was skaars lus om Donderdag, ná die episode op kykNET uitgesaai is, skool toe te gaan. Maar dit was vir haar skoolmaats net so erg dat sy nie meer op die kassie is nie.

“Hulle het vir my gesê ek het baie goed gedoen, ten minste was ek vyfde in die land. Sommige van hulle het grappies gemaak en gesê hulle gaan nie meer Kokkedoortjie kyk nie, omdat ek nie meer daarop is nie,” vertel Thali. 

Sy meen egter sy sal nog elke Woensdagaand saam met haar gesin vasgenael voor die televisie sit en kyk want sy weet glad nie wie die wenner gaan wees nie.

Tog sê Thali die ervaring was wonderlik. Sy het egter baie op haar senuwees geraak as sy gesien het hoe vinnig die tyd kan uitloop wanneer hulle eers aan die kook is.

Maar Thali se ma, Aletha, sê haar senuwees was ook flenters. 

#momandme #hugogirls #mamma

A post shared by Thali Hugo (@rondomthali) on

“Dit was veral aan die begin vir my baie erg gewees. Want jy wil nie hê jou kind moet iets stupid op nasionale televisie aanvang nie,” sê Aletha laggend. 

“Die onbekendheid was ook vir my erg aan die begin.”

Volgens Aletha het hulle albei baie geleer. 

“Ek dink ons het geleer om dit eenvoudig te hou. ’n Mens is geneig om dinge te ingewikkeld te wil maak. Hou dit eenvoudig aan die begin en eksperimenteer dan later verder,” sê sy. Sy meen ouers moet ook hul kinders aanmoedig om in die kombuis te speel en nuwe dinge te probeer. 
“’n Mens is dikwels te bang om jou kind net te los. Maak hulle vaardig met die basiese dinge maar moenie oorversigtig wees nie.”

Aletha sê ouers wat bang is hul kinders gaan die kombuis net bemors moet hulle soms laat begaan.

“En laat hulle dan sommer self skoonmaak ook,” sê sy. 

Dankie vir al jou raad @marilouisguy #kokkedoortjie #kerrie #trooskos #potjiekos

A post shared by Thali Hugo (@rondomthali) on