Sy lyk is Donderdagoggend gevind.

Die voorval het in Kensington, Kaapstad, plaasgevind.

’n Geskokte inwoner het Donderdagoggend omstreeks 08:00 die gru-vonds gedoen en owerhede daarvan in kennis gestel.

Reuben, ’n gr. 4-leerder aan die Primêre Skool Windermere was, het nog sy skoolklere aangehad toe sy lyk gekry is.

Sy skoolhoof, Brian Chellan, sê die skool is ook in die duister oor die omstandighede rondom die voorval. Hy het die skool se medelye oor die seun se familie uitgespreek.

Luidens berigte het Reuben Woensdag vermis geraak toe hy winkel toe gestuur is om aartappels te koop. Hy het nooit teruggekeer nie.

Reuben, wat na bewering tussen bendes se kruisvuur beland het, het na verneem word ’n enkele skietwond aan sy kop opgedoen.

Cheslyn Steenberg, ’n lid van Kensington se gemeenskapspolisiëringsforum en woordvoerder vir die gesin, sê hulle doen ’n beroep op die Suid-Afrikaanse polisiediens vir meer hulpbronne.

Hy sê: “Reuben is enkele meters van sy ouerhuis afgemaai en dit is tragies dat ’n onskuldige kind so moes sterf. Hy sal nooit matriek haal nie, en al die verwagtings vir sy lewe is daarmee heen. Nog ’n onskuldige kind is deur die hand van misdaad weggeneem.”

Steenberg sê ook die September-gesin verwerk Reuben se dood baie moeilik en dat die tragedie hulle ’n baie diep wond toegedien het.

“Elke familie het hul eie foute en probleme en elkeen treur anders. Die gemeenskap moet agter die gesin staan en hulle ondersteun tot geregtigheid geskied.”

Hy het Reuben beskryf as ’n kinderlike kind wat net wou speel en iemand wat altyd behulpsaam was.

Hy verduidelik: “Almal in die gemeenskap kon hom altyd stuur. Hy wou altyd help en was nie soos die ander kinders nie. Dit is ’n verlies nie net vir sy gesin nie, maar vir die gemeenskap in die geheel. Ons rou en is gefrustreerd omdat ons wonder wie volgende gaan wees.”

Steenberg meen ook dat sigbare polisiëring hierdie soort voorval kan verhoed en dat misdaad skerp sal afneem as die polisie die gebied patrolleer.

Jessica Shelver, ’n woordvoerder vir die Wes-Kaapse onderwysdepartement, sê hulle is bewus van die tragiese voorval en wil hul medelye aan Reuben se vriende en familie betuig.

“Berading en ondersteuning is beskikbaar vir leerders en opvoeders. Die skool sal ook ’n gedenkdiens reël.”

Kapt. FC Van Wyk, ’n polisiewoordvoerder, het die voorval bevestig. “Die motief vir die noodlottige voorval is in hierdie stadium onbekend. Niemand is nog gearresteer nie. Die omstandighede rondom die voorval word ondersoek.”