Julia Hawkins het bewys dat sy nie die bynaam “Hurricane” verniet gekry het nie. Sy het verlede Saterdag in die 100 m-nommer van die USA Track and Field Outdoors Masters-kampioenskapstoernooi na die eindstreep gehardloop in 40,12 sek. – ’n rekordtyd vir haar ouderdomsgroep.

Julia het agterna gesê haar voete het haar ietwat in die steek gelaat. Haar tyd was net effens swakker as haar persoonlike beste vertoning van 39,63 sek., wat sy in Desember verlede jaar opgestel het.

“Dit het nie vir my gevoel asof ek die rekord verbeter het nie,” sê Julia, wat van Louisiana af kom. Dit het tydens ander wedrenne gevoel asof ek vlieg. Hierdie keer het dit nie gevoel asof ek so vinnig hardloop nie.

“Ek het my middagslapie hiervoor ingeboet,” het sy bygevoeg.

Julia het eers verlede jaar met baan- en veldnommers begin toe sy aan die Staatsolimpiade in Louisiana deelgeneem het – dit wys jou net jy is nooit te oud om met iets nuuts te begin nie.

Hurricane Julia skryf haar atletiese vermoëns toe aan gesonde eetgewoontes, gereelde oefening en die fantastiese ondersteuning van haar familie.

“Jy kan nie veel meer as dit vra nie. Dit is waarmee ek geseën is,” sê die ouma van drie.

Dit lyk asof ouderdom nie ’n faktor is as ’n mens soos ’n jong bokkie voel nie.

Bronne: Mirror.co.uk, theadvocate.com