WAT is jou hond se naam? Vrae soos dié het die bal aan die rol gesit met Huisgenoot se eie Facebookblad.

En daardie bal het vinnig tot ’n sneeubal gegroei sodat Huisgenoot nou met ’n hele 100 000 aanhangers op Facebook spog!

Nie sleg vir ’n blad wat eers in die middel van verlede jaar begin is en aan die begin van vanjaar

nog net sowat 3 000 aanhangers gehad het nie...

Maar hoe het dit gebeur dat die oudste tydskrif in die land op die rype ouderdom van 94 daardie hipermoderne sosiale verskynsel van die elektroniese era, Facebook, betree het en so gou soveel welslae behaal het? ’n Paar terloopse vrae aan ons Facebook-vriende soos wat hul hond se naam is, het die knoop help deurhak, vertel Wilmer Müller, ons aanlynredakteur.

In Februarie het hy gesien hier kom ’n ding. “Toe ek weer sien, was daar skielik 5 000 aanhangers, en toe ek my oë uitvee, was die maand skaars om of daar was skielik 10 000 aanhangers. Nooit het ons gedink dit sal so vinnig gebeur nie.”

Eintlik het hy gehoop om teen die einde van vanjaar maar eers sowat 30 000 aanhangers te hê en daardie 100 000 is steeds vir hom ’n ongelooflike mylpaal.

WAAR jy ook al in die wêreld is, jy kan in die plesier van Huisgenoot deel, verduidelik Wilmer.

‘‘Mense wat nie by musiekfeeste kan wees nie, kan deur ons updates deel daarvan wees, soos met Skouspel. Met ons onlangse Tempo-toekenningsaand het ons video’s opgeneem en regstreekse terugvoer op ons webtuiste geplaas en daardeur lesers deel van die aksie laat voel.”

Dis moeilik om te bespiegel oor die toekoms, sê hy. “Daar is nog heelwat ruimte vir groei. As jy kyk na die spoed waarteen Facebook self as medium groei en die nisrol wat Huisgenoot as ’n Afrikaanse handelsmerk in die wêreld speel, is dit merkwaardig.

“Ek gaan nie ’n kans waag om ’n plafon daar te stel nie. So lank soos Afrikaans lewendig is, sal ons Facebook-groep ook van die lewendigste op die internet wees.”

Besoek ons Facebook-blad by: http://www.facebook.com/huisgenoot