KAAPSTAD –

Agt mans is deur ander bote uit die ysige waters gered. Die NSRI-woordvoerder Craig Lambinon sê die Transnet nasionale hawe-owerheid het die vrywilligers-reddingsdiens ingelig dat die boot in die moeilikheid beland het. “Die 42 meter lange vistreiler van Kaapstad het 20 seemyl suid van Hangklip in hoë deinings in die moeilikheid beland en die 21 bemanningslede het die boot verlaat.”

Craig sê al die bote is in kennis gestel van die voorval en gevra om te help en die NSRI het reddingsbote vanaf hul basisse in Hermanus en Simonstad gestuur. ’n Vragskip en drie vissersbote het eerste op die vistreiler afgekom. “Met hul aankoms is dit bevestig dat al 21 bemanningslede die boot verlaat het.

“Nege oorlewendes is gered en nege liggame is uit die water gehaal. Dis later bevestig dat een van die oorlewendes aan sy beserings beswyk het. Al die bote in die soekgebied het reddingspogings uitgevoer. Daar was ses meter hoë deinings met ’n suidoostewinde van 45 knope, maar seetoestande het tydens die soek-en-reddingstog verbeter.

“Ten spyte van ’n uitgebreide lug- en seesoektog was daar geen teken van die drie vermistes nie en die soektog duur voort. Radiokommunikasie word deur die Telkom Maritieme Radiodienste bygestaan,” sê Craig.

Bron: News24