Afrikaanse flieks beleef voorwaar ’n bloeitydperk. Nog ’n opwindende rolprent, Jimmy in Pienk, begin in Augustus landwyd draai. In die fliek speel Louw Venter ’n boer wat enigiets sal doen om sy plaas te red . . . selfs al moet hy pienk dra en ’n haarkapper wees! (Kyk die lokprent hier: http://www.youtube.com/watch?feature=player_embedded&v=2U2e1Ywh4F0 )

Hanneke Schutte, die skrywer en regisseur van Jimmy in Pienk, is vinnig besig om vir haarself naam te maak in die bedryf. Hanneke se kortfilm, Saving Norman, was die Suid-Afrikaanse wenner van die internasionale Jameson First Shot-kompetisie. Dit het beteken sy kon Los Angeles toe vlieg om daar haar kortfilm te skiet, nogal met die Hollywood-akteur Willem Dafoe in die hoofrol!

Ons het by Hanneke gaan inloer.

1.    Hoe het jou lewenspaadjie geloop tot waar jy nou is?

Ek het op 'n piepklein dorpie in die Noord Kaap genaamd Beeshoek groot geword (dis net langs Postmasburg). Toe ek 'n tiener was het ons Johannesburg toe getrek en ek het ná skool Zulu en Sielkunde op Tukkies gaan swot. Ek het 'n draai in die Advertensiewese gemaak en het uiteindelik as 'n draaiboekskrywer en blogger opgeeindig. My blog Handsome Things handel oor Suid-Afrikaanse kuns, ontwerp en allerhande handgmaakte dinge.

Ek en my man Paolo bly tans in Roosevelt Park met ons onnutsige drie honde-kinders Yuki, Dojo en Binky.

2.   Het jy nog altyd daarin belang gestel om flieks te maak?

Ek was nog altyd mal oor flieks, maar het nooit gedink ek gaan die bedryf opeindig nie. Ek wou van kleintyd af skryf of 'n wildbewaarder word - enige iets wat met diere te doen het, ek dink die Sirkus was plan C.

3.   Vertel bietjie van die Jameson-ervaring? Dit was sekerlik baie oorweldigend, maar ongelooflik om saam met iemand soos Willem Dafoe te kan werk?

Dit was 'n ongelooflike ervaring. Ek was baie geïntimideerd aan die begin, maar Willem het my gou op my gemak gestel. Hy is so ongelooflik talentvol en het my taak baie maklik gemaak. Dis waar wat hulle sê: hoe groter die ster, hoe meer nederig is hulle.

4.  Hoe lyk die reaksie op Saving Norman tot dusver?

Ek's baie dankbaar dat die reaksie tot dusver nog baie positief was.

(Kyk Saving Norman hier http://www.youtube.com/watch?v=HHBrO_q3hsI )

5.   Jimmy in Pienk is jou eerste vollengte fliek. Hoe was dié ervaring?

Ek was baie bevoorreg om saam met die room van Suid-Afrikaanse akteurs te kon werk, mense soos Gys de Villiers, Louw Venter, Terence Bridgett, Shaleen Surtie-Richards, Tinarie van Wyk-Loots, Gerárd Rudolf en vele meer. Ons het soveel pret op die stel gehad en dit was ’n onvergeetlike ervaring.

6.   Wie sal van die fliek hou? Hoekom moet mense dit gaan kyk?

Daar’s iets vir almal in die fliek. Dis ’n regte feel good-komedie, met ’n bietjie romanse vir die vroue en ’n paar eienaardige skurke (Garth Collins en David Isaacs) vir die mans. As jy wonder hoe ver ’n boer sal gaan om sy plaas te red, kom kyk!

7.   Wat was vir jou die grootste uitdaging tydens die vervaardiging van Jimmy in Pienk?

Die ervaring was fantasties, maar ook uitmergelend. Ons het vier weke in die nat, koue Kaapse winter geskiet. So dit was vroeë, koue, donker oggende en ek was boonop amper vyf maande sonder my man en honde.

8.   As iemand vandag vir jou ’n onbeperkte begroting gee om ’n fliek te maak, is daar ’n sekere storie wat jy graag sal wil vertel? Watter akteurs sal jy kies om die rolle te speel?

Sjoe, dis ’n tawwe een. Ek hou van kleiner stories, so ek sal nooit ’n duur aksie-fliek of ’n ding wil maak nie. Maar ek sal mal wees daaroor om saam met Bill Murray en Catherine Keener te werk.

9.   Met watter Suid-Afrikaanse akteur/aktrise sal jy nog die graagste wil saamwerk?

Daar’s baie! Deon Lotz, Marius Weyers, Erica Wessels (sy’s ’n klein rolletjie in Jimmy in Pienk), Jacques Bessenger, Rika Sennett, Rolanda Marais, Lelia Etsebeth, Anel Alexander, Jana Strydom en vele meer. Ek sal moet sorg dat ek nog baie flieks maak.

10.  Hoe ontspan jy?

Ek stap met my honde en ek drink gereeld Chardonnay op my stoep saam met my vriendin Roela.

11.  Hoe voel jy oor die standaard van Suid-Afrikaanse flieks?

Dit is so ’n ongelooflike opwindende tyd in die Suid-Afrikaanse filmbedryf. Die standaard van flieks is uitmuntend en ek dink ons kan trots voel op ons plaaslike rolprente.

12.  Aan watter projekte werk jy?

Ek’s besig om ’n boek te omskryf in ’n fliek en ek en Henk Pretorius het verlede jaar Bakgat 3 geskryf. Dit was ’n groot uitdaging, want die wêreld en karakters was ’n bietjie buite my verwysingsraamwerk, maar ons het baie pret daarmee gehad.