Dr. Mamphela Ramphele, voormalige visekanselier van die Universiteit van Kaapstad en leier van die te stigte politieke party Agang, het vandag (WOENSDAG) as hoofspreker op die African Education Week in Sandton haar voorstelle vir die verbetering van onderwys in SA uiteengesit.

Volgens dr. Ramphele is dit ’n wrede ironie dat die jeug van vandag aan ’n slegter onderwysstelsel uitgelewer is as die een waarteen die jeug in 1976 in opstand gekom het – ’n opstand waarvoor hulle bereid was om te sterf.

Volgens haar sit die land ’n groot genoeg deel van die bruto binnelandse produk (R234 miljard) opsy vir gehalte-onderwys, maar ontbreek die politieke wil om die geld doeltreffend te bestee. “Onderwys is nie ’n groot genoeg prioriteit vir sommige regerings nie omdat hulle nie die strategiese belang daarvan besef nie. Ons leerders het 143ste uit 144 lande gekom met wiskunde- en wetenskaptoetse – net Jemen het ’n slegter as ons gevaar.”

Van die kwessies wat sy uitgelig het in haar toespraak, sowel as in ’n media-inligtingsessie oor onderwys in SA, is:

  • Die instelling van vak-spesifieke vaardigheidstoetse vir onderwysers, met verdere opleiding aan onderwysers.
  • Die koppeling van onderwysers se salarisverhogings aan hul vaardigheid- en opleidingsvlakke.
  • Die instelling van minimum-standaarde vir nuwe onderwysers wat die onderwysstelsel wil betree, met die uiteindelik doelwit dat alle onderwysers oor ’n B-graad moet beskik.
  • Die dringende vul van onderwysvakatures deur 15 000 onderwysers aan te stel uit gegradueerdes wat nie werk kan kry nie.
  • Die betaal van bonusse aan onderwysers wat skaars vakke onderrig, soos wiskunde, en onderwysers wat bereid is om in afgeleë gebiede skool te hou.
  • Die verbetering van infrastruktuur en die skepping van ’n behoorlike leer-omgewing met geriewe soos biblioteke.
  • Die instelling van minimum-standaarde vir alle aspekte van die onderwys sodat ouers weet wat hulle van die regering kan verwag en die regering verantwoordbaar kan hou.
  • Die instelling van maatskaplike toelaes vir akademiese prestasie, soos byvoorbeeld aan die gesinne van leerders wat 70 persent in hul skoolgrade behaal.
  • Die verhoging van die matriekslaagsyfer na 50 persent. “Geen van ons sal in ’n vliegtuig klim as die vlieënier net oor ’n derde van die nodige kennis beskik nie. Hoekom verwag ons so min van ons kinders?”
  • Beter toegang tot tegnologie in skole. “Waarom word tabletrekenaars vrylik in die onderwys in lande soos Uganda, Nigerië en Ghana gebruik nie, en nie hier nie?”

Dr. Ramphele het geweier om SA se swak onderwys aan die nalatenskap van apartheid toe te skryf. “Dit was nie apartheid wat ’n slaagsyfer van 30 persent gestel het en puttoilette gegrawe het nie. Ons hét die begroting toegewys om onderrig te verbeter, maar die geld gaan weens korrupsie verlore.”

hgedu