Dié seuntjie het pas ons geloof in die mensdom herstel.

Xavier Elliot van Phoenix, Arizona, verkies om sy vrye tyd voor sy ma se naaimasjien deur te bring, besig om klere vir haweloses te maak.

Die seuntjie se inspirerende toewyding om behoeftiges te help, spruit uit sy familie se eie ervaring. Toe sy pa terugkeer huis toe ná weermagdiens in Irak, is posttraumatiese stressindroom by hom gediagnoseer, wat daartoe gelei het dat die familie in ses verskillende skuilings vir haweloses moes woon.

“Ek dink die idee het by hom opgekom ná alles wat ons moes deurmaak en het gemaak dat hy ’n verskil in ander se lewe wou maak,” sê sy ma, Stephanie.

Hoewel die gesin nou ’n permanente tuiste het, het Xavier nie van sy ervaring in die skuilings vergeet nie. Hy gebruik sy sakgeld om materiaal, knope en ritssluiters te koop en maak dan self die klere.

Volgens Huffington Post het Xavier naaldwerk begin doen nadat hy sy ma dopgehou het. Hy hoop om genoeg geld in te samel om sy eie naaimasjien te koop.

“Ek hoop dit moedig ander mense aan om my te help,” het hy aan KPNX gesê. “Sodat ek ander mense kan help.”

Bronne: huffingtonpost.com, metro.co.uk