Soos enige 10-jarige hou Adalia Rose daarvan om mooi rokkies te dra en saam met ma, Natalia Amozurrutia (29), met grimering te speel. Hulle woon in Pflugerville in Texas.

Met ’n piepstemmetjie, waarvoor jy jou ore moet spits om te verstaan wat sy sê, sing sy haar gunstelingliedjies op die top-20-trefferparade.

Tog lyk sy soos ’n vrou in haar 80’s. Sy het ’n verkreukelde gesiggie en haar hare het lankal uitgeval. Natalia se hare is afgeskeer om Adalia beter te laat voel. Dié kry verskillende pruike present en dra elke dag ’n ander een en flikvlooi daarmee vir die kamera.

Adalia het die sogenaamde oumenssiekte, oftewel progerie. Een uit elke 4 miljoen tot 8 miljoen mense ly aan hierdie genetiese toestand. Wêreldwyd is net 144 bekende gevalle in 46 lande.

Dit blus egter nie Adalia se opgewonde geaardheid en die oorgawe waarmee sy haar gewilde YouTube-video’s maak nie.

Die fyn stem en haarverlies is net van die simptome van die siekte, wat kinders teen ’n versnelde pas laat oud word. Sy en van die ander hand vol lyers probeer bewusmaking skep deur video’s en foto’s aanlyn te plaas. Meer as 14 miljoen mense hou van Adalia se Facebook-blad, en haar YouTube-kanaal het meer as 521 000 intekenaars.

Ongelukkig steel boelies haar foto’s en video’s en dryf dan op hul eie blad die spot daarmee. Een het byvoorbeeld by ’n foto gesê haar ouers moet aangekla word van kindermishandeling, want haar ma moes eerder ’n aborsie ondergaan het.

’n Ander een kondig aan hy het ’n video van Adalia wat in ’n motorongeluk was en verbrand het. As jy op die skakel klik, ry sy in ’n pienk speelmotor in die huis rond en bots dan teen ’n bank.

“Aan die begin was ek kwaad,” het haar ma aan Robbert Haddock van die TV-kanaal KXAN gesê. “Ek was baie ontsteld en het nie verstaan wat met hierdie mense skort nie.”

Natalia verskyn in talle video’s saam met haar bekkige dogtertjie.

“Almal was woedend,” vertel 32-jarige Jaclyne Barlow, een van haar aanhangers uit Maine. “Party mense lewer kommentaar van ’n seksuele aard op foto’s van haar of sê hulle wil hê sy moet doodgaan. Mense wat haar wil seermaak.”

Sy en ander bekommerdes het ’n petisie begin om wetlik te keer dat sulke kwetsende goed oor kinders soos Adalia op die internet verskyn.

Adalia het ook op haar Facebook-blad opgestaan teen hierdie boelies.

Op haar profielfoto trek sy en haar ma gesig en sê: “The face we make when we see a message from a hater.” Meer as 69 000 mense het die afgelope paar dae daarop gereageer.

Adalia se humorsin is duidelik toe ons haar op Facebook ’n paar vrae vra.

“Ek is ’n joernalis en moet oor jou en jou boelies skryf.”

“Jy hoef nie oor my te skryf as jy nie wil nie ”

“Hoe hanteer jy die boelies en hoe gaan dit met jou vandag?

“Ek hanteer dit nie ”

“Dit gaan goed met my.”

adalia
Bykomende bronne: Inquisitr.com, Radaronline.com, Gawker.com, Nbcbayarea.com,

Progeriaresearch.org