Weens ’n seldsame afwyking slaap Jade Frazier ’n verstommende 16 uur per dag.

Die 10-jarige Jade ly aan Kleine-Levin-sindroom, ’n neurologiese afwyking wat gekenmerk word deur herhaalde tydperke van oormatige slaap. Die toestand kan 10 jaar of langer duur, volgens die Stigting van Kleine-Levin-sindroom.

Die ongeneeslike siekte veroorsaak dat Jade elke dag vier keer ’n uiltjie knip en wanneer haar ma, Dee, dit waag om haar wakker te maak, kry sy ’n woedeaanval. 

Die meisietjie het permanent donker kringe onder haar oë en verkeer ’n ruk lank in ’n onsamehangende toestand nadat sy ’n slaapepisode gehad het. 

Sy het selfs al Kersdag misgeloop toe sy 20 uur lank geslaap het. Haar ma was ontsteld dat sy nie haar geskenke kon oopmaak nie, want sy was te deurmekaar nadat sy wakker geword het.

Jade het al amper oral aan die slaap geraak, selfs by die waterpark naby hul huis. 

“Dit maak nie saak waar sy is nie. Sy word net skielik ontsettend moeg,” sê Dee, ’n kelnerin.

Jade kan nie aan sport of enige liggaamlike aktiwiteit deelneem nie, want haar dokters is bang dit kan haar slaaptoevalle verleng.

“My hart breek, want sy ervaar nie wat ’n normale 10-jarige behoort te ervaar nie,” sê Dee.

Die ma van twee het Jade se vreemde slaapgewoontes die eerste keer opgemerk toe sy as ’n pasgebore baba deur die nag geslaap het. Dit is baie ongewoon vir so ’n jonk kind. Later het sy ook by die skool aan die slaap geraak.

Die sindroom het daartoe gelei dat Jade se ontwikkeling vertraag is en dit beïnvloed haar spraak.

“Sy slaap beslis meer as ander kinders en sy loop dinge mis as gevolg daarvan,” sê Dee. 

Bronne:metro.co.uk, wsls.com, mirror.co.uk