“Vir almal wat tans teen kanker veg of chemoterapie verduur. Vir almal wat lewe met hierdie verskriklike siekte: Dit gaan baie vinnig baie moeilik raak.”

Só begin Jessica Medinger van die Amerikaanse deelstaat Texas haar Facebook-inskrywing oor haar 10-jarige seun se hartseer stryd teen kanker.

Jessica se seun, Drake, is volgens Daily Mail in 2012 met leukemie gediagnoseer. Hy het gelukkig dié aftakelende siekte in 2016 oorwin.

Maar toe gebeur die ondenkbare: Drake word in dieselfde jaar met testikulêre kanker gediagnoseer en moet hy sy kankerstryd moedig voortsit.

In haar inskrywing vertel Jessica roerend hoe Dranke by haar in die kamer slaap omdat hy te bang is hy gaan in sy slaap dood.

Die foto van Drake is baie ontstellend om na te kyk. Die tienjarige is reeds brandmaer, broos en duidelik baie siek weens die chemoterapie.

Jessica vertel voorts hoe Drake in die middel van die nag vir haar vra of hy hemel toe sal gaan as hy doodgaan en of hy daar sy pa sal sien.

"Hy wil weet of hy met hom sal kan speel en gesels."

Jessica beskryf ook openhartig die praktiese uitdagings verbonde daaraan om ’n kind met kanker groot te maak. Sy vertel hoe hy ’n doek moet dra omdat hy nie sy liggaam kan beheer nie; hoe hy sukkel om kos in sy lyf te hou en te swak is om self te loop.

"Hy is net vel en been, want ek moet hom smee om EEN groenboontjie vir aandete te eet, of een koppie water deur die loop van die dag te drink."

Die pyn wat duidelik op Drake se gesig sigbaar is in die foto wat sy ma gedeel het, bring vir haar ook pyn, sê sy.

“Hy hou aan vir my vertel 'Mamma ek gaan dit nie maak nie'. Hy wil nie aangeraak word nie, want dit maak te seer." Drake moet deur die loop van die dag morfien gebruik om te help met die pyn.

Drake se medikasie laat hom ook dikwels naar, vertel sy ma. Hy moet tot soveel as 44 pille oor 24 uur sluk, maar bring dit meestal weer op omdat hy sukkel om meer as ’n lepel joghurt afgesluk te hou.

Nietemin bly Jessica positief. "Vanaf die oomblik dat ek uitgevind het ek is swanger (met Drake) tot vir altyd van nou af sal hy die rede tot my bestaan wees.

"Hy is my glimlag, my liefde, my hartklop. Hy is ook my trane, my hartseer, my fronse. Hy is my lewe."

Bronne: Facebook; Daily Mail