’n Tienjarige meisie het Sondag ernstige snywonde opgedoen toe ’n rubberboot se skroef haar op Langebaan se strandmeer getref het. Sy is daarna in die provinsiale hospitaal op Vredenburg aan die Weskus opgeneem voordat sy na die Vergelegen Mediclinic in Somerset-Wes oorgeplaas is.

[caption id="attachment_161380" align="alignnone" width="600"]Foto: Robin Schultz Foto: Robin Schultz[/caption]

Die voorval het gebeur terwyl sy haar pa en broer gehelp het om ’n seiljag te lig wat op ’n sandbank by die ingang van die Mykonos-hawe vasgesit het.

“Twee privaat rubberbote het gaan help deur toue aan die boeg en kant van die seiljag vas te maak om die kiel uit die sand gelig te kry,” het die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) in ’n verklaring gesê.

Die rubberbote kon die seiljag uitlig, maar volgens ooggetuies is hulle van hul eie rubberboot afgeslinger. Volgens die NSRI het die rubberboot dalk nie ’n noodskakelaar gehad wat dit kon afskakel toe die drie afgeval het nie, en dit het in ’n sirkel begin vaar.

“Dit het oor die meisie gery en wonde aan haar linkerarm en albei bene veroorsaak.”

Bemanning van ’n rubberboot het hulle gaan help en probeer om die ander rubberboot van die drie weg te stoot. Dit is egter beskadig en die NSRI-reddingsboot moes dit terug na die hawe sleep.

’n Groter rubberboot is laat kom om opsetlik teen die draaiende boot vas te ry sodat dit van rigting kon verander. ’n Man op ’n waterponie het ook probeer help.

Die deining het die boot eindelik tot op die strand gestoot, waarna ’n lid van die publiek dit na die hawe gebring het.

Die NSRI se boot het die pa en meisie na die Mykonos-hawe geneem en die seun is opgelaai deur die seiljag wat toe van die sandbank gelig is.

Met hul aankoms by die kaai is noodhulp op die meisie toegepas en is sy na die Vredenburg-hospitaal geneem. Sy was in ’n ernstige maar stabiele toestand. Die pa en seun is nie beseer nie.

Bron: News24