Die 9/11-terreur-aanvalle (11/09/2001)

Toe die eerste passasiersvliegtuig in een van die World Trade Center in New York se tweeling­torings vasvlieg, beskou die meeste mense dit bloot as ’n verskriklike vliegongeluk.

Sowat 10 minute later vlieg nog ’n gekaapte vliegtuig in die tweede toring vas en word dit ysingwekkend duidelik dat dit ’n terreuraanval is.

Daardie oggend kaap 19 Al-Kaïda-lede vier kommersiële stralers waarvan twee in die aanval op die tweelingtorings gebruik word. Die derde een vlieg in die Pentagon in Virginia vas, terwyl die vierde een ’n ent voor sy teiken in Pennsylvania neerstort. Geeneen van die passasiers oorleef dit nie en byna 3 000 mense sterf in die aanvalle.

Dié skokgebeurtenis lei tot Amerika se inval in Afganistan, waar hulle jag maak op Al-Kaïda se leier, Osama bin Laden, en later ook in Irak, waar hulle Saddam Hoesein se bewind omverwerp.

Tsoenami in Indonesië (26/12/2004)

Tweede Kersdag 2004 sal as een van die dodelikste dae van die dekade onthou word.

’n Kragtige ondersese aardbewing van tussen 9,1 en 9,3 op die Richterskaal vind naby die weskus van Soematra plaas en veroorsaak golwe van meer as 30 m hoog wat teen ’n snelheid van meer as 80 km/h na Indonesië, Indië, Sri Lanka en Thailand aanrol.

Die reuse golwe eis na raming 230 000 lewens, en die aardbewing self word die vyfde dodelikste seismiese gebeurtenis wat nog opgeteken is. Dit duur amper 10 minute en word beskou as een van die langstes in menseheugenis.

Orkaan Katrina (23-29/08/2005)

Orkaan Katrina word beskryf as finansieel die mees verwoestende natuurramp in menseheugenis. Dit eis meer as 1 800 menselewens en veroorsaak skade van R560 biljoen.

Dié kategorie 1-orkaan is die vyfde sterkste een wat Amerika nog getref het. Dit vorm op 23 Augustus 2005 oor die Bahamas en tref die Amerikaanse kus ses dae later. Vloedwater uit die see stroom byna 20 km die binneland in.

Kus- en rivierdorpe oor ’n reuse gebied word oorstroom, maar New Orleans word verreweg die swaarste getref.

Lees meer oor die afgelope dekade se hoogte-en laagtepunte in Huisgenoot, 30 Desember 2010.