Foto: Elite Photo Agency

Harry se ouboet, Wills, het sy vrou dan hoeka tydens ’n Keniaanse vakansie die jawoord gevra.

’n Bron het aan die Sondag-koerant Daily Star gesê: “Soos dinge nou lyk, voorspel mense wat naby aan Harry en Cressida is ’n verlowing teen die einde van die jaar en ’n troue in die Britse lente.” Lees die hele storie hier.

Hoewel ons koninklike blogger dink dis nonsens, glo ons as daar ’n rokie is, is daar ’n vuurtjie. Hier is 10 goed wat jy van Harry se (moontlike) toekomstige bruid moet weet.

1.Anders as Wills se liefling, Kate, is Cressy (soos vriende haar noem) se bloed blou. Cressida is die dogter van lady Mary-Gaye Curzon en Jeffrey Bonas. Mary is die dogter van Edward Curzon, die sesde graaf Howe. Sy en Jeffrey was ses jaar lank getroud. Mary het al vier keer voor die kansel gestaan; Cressida het vier halfsibbes.

2.    Cressida se ma is nogal ’n karakter: Sy het eenkeer halfnaak en oliebesmeer vir die koffietafelboek Birds of Britain poseer.

3.    Omdat Cressida die jongste is, noem haar familie haar ook soms Small of Smally.

4. William het op ’n tyd vir Isabella Anstruther-Gough-Calthorpe, Cressida se halfsussie, in die oog gehad. Isabella is onlangs getroud met Sam Branson, die seun van die Virgin-magnaat, sir Richard Branson.

5. Nes Harry se vorige meisie, Chelsy Davy, was Cressida in die eksklusiewe koshuisskool Stowe School in Buckingham. Die skoolgeld beloop glo R160 000 per kwartaal. As ’n tiener het sy ook die Royal Ballet School bygewoon. En nes Chelsy is sy ’n oudstudent van die Leeds-universiteit, waar sy dans studeer het. Cressida het haar studies voortgesit aan die Trinity Laban Conservatoire, ’n musiek- en dansskool in Londen, en verlede maand daar afstudeer.

6. Sy het al modelwerk gedoen en het al as ’n ski-instrukteur gewerk.

7. Dit wil lyk of Cressida van die naam Harry hou; haar vorige kêrel was Harry Wentworth Stanley. Hy is ook verlangs verwant aan die adellikes.

8. Cressida is verlede jaar by ’n musiekfees deur haar goeie vriendin prinses Eugenie, Harry se niggie, aan die prins voorgestel.

9. Al lyk Cressida dalk na ’n sosiale vlinder, neem sy glo haar loopbaan as ’n danser ernstig op; sy bring haar naweke deur met dans en kuiers by haar halfsibbes.

10. Sy is meer doodgewoon as wat jy dalk dink. Sy is onlangs by die Glastonbury-musiekfees afgeneem in ’n geskeurde denimoorpak en neongroen donkerbril, terwyl sy aan ’n massiewe bord slaptjips gesmul het. ’n Meisie so na ons hart!

- KIRSTIN BUICK

Bronne: tattler.com, express.co.uk, hello.com, mirror.co.uk, dailymail.co.uk