Die 10 000 duiwe wat Woensdag tydens ’n seremonie vir China se nasionale dag losgelaat is, het ’n ongewone ondersoek ondergaan – elkeen se vere en anus is vir gevaarlike materiaal ondersoek, luidens staatsbeheerde mediaberigte, wat ’n aanduiding is van die regering se vrees vir moontlike aanvalle.

Die vredesimbole is op 1 Oktober tydens die sonsopkoms losgelaat in Beijing se simboliese middelpunt, Tiananmen-plein, om die Volksrepubliek van China se 65-jarige bestaan te herdenk.

Guo Chunwei, ’n plaaslike veiligheidspolisiebeampte, het aan die Jinghua Times gesê werkers het voor die tyd elke duif se vlerke, bene en vere nagegaan om te verseker hulle “dra nie verdagte materiaal nie”. Die hele proses is op video vasgelê en die voëls is toe in verseëlde voertuie gelaai vir die rit na Tiananmen-plein, het die koerant berig.

’n Soortgelyke berig het in die Beijing News verskyn, en die People’s Daily het ook daaroor getwiet: “Tienduisend duiwe ondergaan Dinsdag anale ondersoeke vir verdagte voorwerpe, gereed om Woensdag op nasionale dag losgelaat te word.”

Die berigte het snaakse en spottende reaksies by sommige Chinese lesers uitgelok, en baie nuuswebtuistes, insluitend Beijing News se webtuiste, het later die berigte verwyder. Maar die Jinghua Times se berig en People’s Daily se twiet was teen Woensdagmiddag nog sigbaar.

Die verskerpte veiligheidsmaatreëls is ’n aanduiding van toenemende kommer oor geweld ná ’n reeks aanvalle waarvoor separatiste-militante van die land se etniese Uighur-Moslem-minderheidsgroepe verkwalik word, asook busontploffings en lukrake aanvalle waarvoor die skuld op ontevrede individue gepak word.

Verlede Oktober het drie Uighur-Moslems in ’n voertuig deur skares gery by die Tiananmen-poort in die middestad van Beijing. Hulle het ook ’n ontploffing veroorsaak wat hul en drie omstanders se dood veroorsaak het.

Amptenare in Beijing stuur ook polisiehelikopters om kontrolepunte, ringweë in die stad, groot kruisings en gebiede met druk verkeer te monitor, asook gewilde toeristeaantreklikhede soos die Groot Muur van China en die Somerpaleis, het die Beijing News berig. Die hoofstad het ook 850 000 burgerlike vrywilligers ingespan om die stad met sy 20 miljoen inwoners te help monitor, het die koerant gesê.