Op die oggend van 27 Januarie 2015 het die polisie hulle na die miljoenêrswoning op die luukse De Zalze-landgoed gehaas waar dit aan die lig gekom het dat meer as die helfte van die welvarende Van Breda-gesin met ’n byl uitgewis is.

Hul jongste seun, Henri (21), het slegs ligte beserings in die verwoede aanval opgedoen en sy suster, Marli (17), het by die dood omgedraai nadat sy ’n bylhou teen die kop gekry en haar nekslagaar afgesny is.

Martin van Breda (54), sy vrou, Teresa (55), en hul oudste seun, Rudi (22), is afgemaai.

Die polisie swyg steeds en al wat lt.kol. André Traut oor die saak te sê het, is dat die ondersoek voortduur.

Die moorddossier is weer by die Nasionale Vervolgingsgesag ingehandig waar hy dit sal bestudeer en beoog om ’n besluit oor die saak te

neem.

So het Huisgenoot die afgelope jaar oor die moorde berig:

tragedie van mooi gesin

Tragedie van ’n mooi, slim gesin – 12 Februarie

Die tragiese nuus word bekend. ’n Familievriend vertel van die twee boeties wat “geniaal slim” was. ’n Buurvrou sê sy het Henri die oggend op die toneel sien rondloop.

so sou ons die moorde oplos

So sou ons die bylmoorde oplos – 5 Maart

Huisgenoot praat met die privaat speurder Niel van Heerden en bekende forensiese wetenskaplike David Klatzow oor hoe hulle te werk sou gaan om die moorde te ondersoek. Niel sou eerstens die gebeure in chronologiese volgorde rangskik. Vrae wat hy sou vra, is: “Wie was eerste op die toneel; wat het hy of sy gesien? Wie het die polisie ontbied en wat het hy of sy gesê? Watter polisiebeamptes was eerste daar? Die mediese beamptes? Wat is die voorlopige bevinding oor wanneer die oorlewendes gesterf het?” Niel sou Henri se wonde met dié van sy gesinslede wil vergelyk.

stil en eenkant

Stil en eenkant: So ken ons Henri nie – 19 Maart

Vriende vertel van Henri se kluisenaarsbestaan terwyl sy suster, Marli, aansterk in die hospitaal. Henri het onmiddellik ná die moordaanval op sy gesin by sy oom en tannie André en Sonja du Toit se huis in ’n Kaapse noordelike stadsgebied ingetrek. Hier het vriende aan Huisgenoot vertel het hy elke dag in sy kamer gebly het en medikasie gebruik, onder meer slaappille, om kop bo water te hou.

Net die beste sorg vir Marli

Net die beste sorg vir Marli – 26 Maart

Twee maande ná die bylaanval op haar gesin is Marli onder die strengste moontlike bewaring en geheimhouding van die hospitaal na ’n rehabilitasiesentrum oorgeplaas. Marli se prokureur, Martin Coetzee, sê haar versorgers het dit in hierdie stadium goed gedink dat Henri haar nie besoek nie.

Eerste foto’s ná byltragedie – 16 April

Huisgenoot publiseer eksklusiewe foto’s van Henri wat op ’n Sondagmiddag saam met sy voogde en ’n niggie kaalvoet op ’n Kaapse strand met hul honde loop. Volgens ’n familievriend het Henri sowat twee weke gelede uit sy voogde, André en Sonja du Toit, se huis getrek weens die geweldige media-aandag aan die Du Toits se huis. Henri woon nou in afsondering in ’n gastehuis wat sowat 2 km vanaf sy voogde se huis is. Volgens ’n bron het die eienaars van die gastehuis Henri nie erken nie, en het die jong man aan hulle gesê sy ouers woon in Australië en hy kuier net vir ’n rukkie in die Kaap. Hy koop glo gereeld vir hom rooiwyn en whisky en drink alleen in sy kamer agter ’n geslote deur.

die gaping in haar geheue

Die gaping in haar geheue – 7 Mei

Die familie reik ’n verklaring uit waarin hulle sê Marli ly aan “terugwaartse geheueverlies” en kan niks van die bylaanval onthou nie. Huisgenoot het met kenners gesels oor wat terugwaartse geheueverlies is en wat iemand wat deur soortgelyke trauma gegaan het, se kans is om gebeure te onthou.

Bylmoordhuis tyd vir nuwe hoofstuk

Bylmoordhuis: tyd vir ’n nuwe hoofstuk – 18 Junie

Die vierslaapkamerhuis van 362 m² kom teen ’n afslagprys van R6,2 miljoen in die mark. Soortgelyke huise op die gegoede De Zalze-landgoed word vir R10 miljoen tot R12 miljoen bemark.

as die moorde onopgelos bly

As die moorde onopgelos bly – 6 Augustus

Ses maande ná die moorde word gegis dat ’n geregtelike doodsondersoek kan volg.

sterker na die moord

Sterker ná die bylmoorde – 27 Augustus

Huisgenoot gesels eksklusief met ’n familielid in die Van Breda-binnekring. Teresa van Breda se suster, Narita du Plessis, gesels oor die oomblik toe sy hoor haar suster, haar swaer en hul oudste seun is in ’n bylaanval vermoor. Sy het gesê die gesin staan agter Henri en glo nie enige stories oor hom nie. Sy het vertel hoe trots die gesin op Henri en Marli is om op te staan nadat hulle ouers en broer vermoor is.

* Marli se kurator het sedertdien aangedui dat geen verdere foto’s van haar gepubliseer mag word nie.

– Saamgestel deur Joanie Bergh en Marelize Potgieter