Minstens een persoon is Sondagaand dood en tot 36 ander beseer toe ’n motor glo in ’n doelbewuste daad in voetgangers op ’n sypaadjie in Las Vegas, Amerika inploeg het.

Amptenare daar het bevestig dat benewens die een persoon wat gesterf het, sewe in 'n kritieke toestand in die hospitaal opgeneem is. Die polisie het intussen bevestig hulle hanteer die voorval as ’n doelbewuste daad van terrorisme, eerder as ’n ongeluk.

Die bestuurder van die voertuig, ’n vrou, is in aanhouding en ondergaan etlike toetse, onder meer van haar bloedalkoholvlak. Die vrou het ’n driejarige saam met haar in die voertuig gehad. Die peuter is ongedeerd. Verdere besonderhede van 'n moontlike motief is nog nie bekend gemaak nie. Lees ook: 14 persone en twee aanvallers dood in skietery in Amerika "Almal het gehardloop...en terwyl ek gehardloop het, het ek die motor op die sypaadjie sien aankom na ons toe," het ’n ooggetuie aan CNN vertel. "Ek het 'n vrou gesien (agter die stuur). Dit het nie gelyk of sy die kar wou stop nie; albei haar hande was op die stuurwiel en sy het strak voor haar gekyk." Mense op die sypaadjie het in alle rigtings gespat in ’n poging om uit die motor se pad te bly. Talle van die beseerdes was Franse toeriste, wat behandeling bemoeilik het aangesien tolke eers opgespoor moes word.

Volgens die Las Vegas Review-journal het die motor buite die Planet Hollywood Resort en Casino, ’n baie gewilde toeriste-area in Las Vegas, in die groep mense gejaag.

Party mense het desperaat probeer om die motor tot stilstand te bring. "Ek het mense gesien wat agter haar aanhardloop en 'Stop, stop!' gil," het die ooggetuie bygevoeg.

Lees ook: Nagmerrie in die Franse hoofstad

Antonio Nassar, nog ’n ooggetuie, het vertel hy kon sien hoe mense van die motor se enjinkap af bons. "Die voorruit was teen hierdie tyd stukkend. Mense het die kantruite uitgeslaan, maar sy het net aanhou vinniger ry en nog mense omgery."

Bronne: CNN; BBC