Eerstens moet jy voor Eskom die ligte verdoof reeds seker maak jou alarm se battery is in goeie werkende toestand. Jou alarm se bykomende battery sal jou alarmstelsel ongeveer agt uur lank aan die gang kan hou, sê Stefan Oberholtzer, besturende direkteur van Chubb Fire and Security-groep. Tog hang jou batteryleeftyd af van ’n paar faktore, soos hoeveel toestelle aan die battery gekoppel is, die battery se ouderdom en hoeveel kragonderbrekings en -stuwings in jou area plaasvind.

Maak seker jou veiligheidsmaatskappy het jou alarm via die telefoonlyn geïnstalleer – dit is bitter belangrik,” het Stefan gesê. As jou battery so geïnstalleer is, sal jy in kennis gestel word wanneer sy krag uitgeput is. As dit net via ’n radiosein gekoppel is, sal die veiligheidsmaatskappy nie weet wanneer die battery se krag opraak nie.

“Ons kan nie genoeg benadruk hoe belangrik dit is dat mense hul alarmstelsel gereeld laat versien nie. Hulle moet ook die battery laat versien,” sê Stefan.

Hy herinner klante ook daaraan om hul alarmstelsel minstens een keer per maand te toets.

Voor jy dit toets, moet jy:

  • jou veiligheidsmaatskappy laat weet jy gaan jou alarmstelsel toets;
  • met hulle bevestig dat hulle jou alarm se sein ontvang het; en
  • die maatskappy laat weet wanneer die toets verby is.

Dit word aanbeveel dat jy jou alarm werkdae tussen negeuur en drieuur toets.

Hier is nog wenke om jou tydens kragonderbrekings veilig te hou:

  1. Koop ’n ekstra battery wat aan jou alarm gekoppel kan word; dit sal ekstra batterytyd verseker.
  2. Plaas op strategiese plekke in jou huis batterygedrewe ligte wat aan die hoofbron van elektrisiteit gekoppel is – dit sal dan outomaties aanskakel wanneer die krag afgaan. Dit is veral saans nuttig en is baie veiliger as kerse.
  3. Hou ’n flits in jou kar ingeval jy in die aand by die huis kom en self jou buitehek moet oopmaak.
  4. Dit word ook aanbeveel dat jy ’n noodbattery aan die buitehek koppel as daar ’n langdurende kragonderbreking is.
  5. As jy ’n voetgangerhek het, hou dié sleutel in jou kar. Maak ook seker jy het spaarsleutels in elk van jou voertuie.
  6. Wees ten alle tye waaksaam, veral saans en tydens kragonderbrekings.
  7. Maak seker jy het jou veiligheidsmaatskappy se telefoonnommer in jou foon.
  8. Bel onmiddellik jou veiligheidsmaatskappy as jy per ongeluk jou alarm laat afgaan het.