Deur jou winterklere reg weg te pak, kan jy dit beskerm sodat dit teen die herfs nog splinternuut lyk. En vergeet van daai motbolle! So moet jy maak:

Was jou winterklere

Maak seker al jou winterklere is silwerskoon; was selfs die items wat lyk of hulle nog skoon is. Dit sal help om insekte weg te hou en verwyder ook ongewenste vlekke uit wat ná drie maande in die kas dalk nie sal kan uitkom nie. As jy dit nie doen nie, loop jy die gevaar om motte, kokkerotte en miere te lok wat jou klere kan verniel.

  • Jasse: Neem jou winterjasse na die droogskoonmakers om behoorlik skoon te kom.
  • Truie: Raak ontslae van al die klein wolletjies voor jy truie wegpak. Dan lyk dit sommer nuut.
  • Leerstewels: Prop jou stewels en winterskoene vol sneespapier sodat die vorm behoue bly.
  • Skoene: Maak seker daar is geen modder aan jou skoene nie. Poleer jou skoene en vryf hulle blink met ’n katoenlappie.

Bêre dit op die regte plek

Hoewel kelders, solders en motorhuise gerieflik is om bokse vol speelgoed of boeke te berg, is dit nie die ideale plek vir klere nie. Hitte, nattigheid en insekte kan hier wegkruip en jou klere verniel. Onder jou bed, bo-in ’n kas of selfs onder die trap is veel beter; dis koel en die temperatuur minder wisselvallig.

Kry ’n goeie houer

  • Swartsakke is ’n ekonomiese opsie en bied weerstand teen vogtigheid, maar dit kan maklik gaatjies inkry en jou klere gaan nie mooi netjies opgevou bly nie.
  • Plastiekkratte is ideaal, veral as jy bekommerd is oor vogtigheid of goggas.
  • Reistasse is ook ’n maklike manier om jou klere te berg, mits jy nie van plan is om die tasse vir ’n somervakansie te gebruik nie.
  • Kartonbokse kan ook werk; maak net seker jy vou die klere plat op om kreukels te vermy.
  • Droogskoonmaaksakke kan jou klere laat muf; moet dit liefs nie gebruik nie.
  • Materiaalsakke bied weerstand teen nattigheid en hou insekte uit. Gebruik sommer ’n ou kussingsloop; dit werk ewe goed!

Hou jou klere vars

Vergeet van die motbolle om goggas uit te hou – en boonop stink dit! Gebruik laventel of sederhoutblokkies om jou klere goggavry en vars te hou.

-         Shané Barnard

Bronne: wikihow.com, divinecaroline.com en vogue.com