Het jy al ooit jou inkopies gedoen en besef jy kan nie alles in die koelkas pas wat jy moet nie? Ons sal wed die eerste een wat uitgelaat word, is die konfyt, gevolg deur die souse. Trouens, dit kan moeilik wees om te weet presies wat koel gehou moet word en wat sal oorleef as jy dit in die koskas bêre. Ons kyk ’n bietjie verder.

Tamatiesous

Dit is ’n staatmaker in elke huis, en die etiket sê dit moet verkoel word nadat dit oopgemaak is. Ons is redelik seker die meeste van ons het daardie detail misgekyk; wat is die storie daaragter?

Die mikrobioloog dr. Peter Baratt het aan MailOnline verduidelik een van die redes waarom die vervaardigers voorstel dit moet verkoel word, is omdat dit minder kunsmatige preserveermiddels en sout as voorheen bevat. Sout is ’n natuurlike preserveermiddel; dus as dit ’n hoër konsentrasie daarvan gehad het, sou dit in die kas kon bly.

“Die asyn en tamaties in tamatiesous gee dit ’n hoë suurvlak, wat die groei van bakterieë vertraag,” het hy bygevoeg.

“Maar terwyl tamatiesous ’n paar weke lank in die kas veilig sou wees, moet dit liefs in die koelkas gehou word sodat die groei van potensieel skadelike mikro-organismes vertraag word en dit binne die voorgestelde agt weke geëet kan word.”

Piekel

Daar is niks so lekker nie soos ’n stuk kaas wat kreun onder die piekel nie. Die etiket op dié produk sê gewoonlik dit moet tot ses weke lank in die koelkas gehou word. Volgens dr. Barrat is dit nie nodig nie; dit het hoë suurvlakke wat die groei van bakterieë stuit. Hou dit in ’n koel kas, dan behoort dit tot 12 weke lank kan hou.

Aarbeikonfyt

Konfyte het ook dikwels hoë suurvlakke omdat dit so baie vrugte bevat. Dit keer die groei van bakterieë; dus kan dit tot ses maande lank teen kamertemperatuur gehou word. Maar gebruik altyd skoon eetgerei in die fles, want die suur kan nie teen skimmel beskerm nie.

Sojasous

Dit bevat preserveermiddels teen skimmel en melksuur, wat teen bakterieë beskerm, maar nie elke soort nie. Dr. Barrat stel voor dit moet in die koelkas gehou word, waar dit tot ses maande kan hou.

Tabasco-sous

Die meeste soorte sê dit is genoeg om dit in ’n koel, droë plek te bêre, maar dr. Barratt verskil.

“Ek sou eerder versigtig wees en dit binne agt weke gebruik as dit nie verkoel is nie, of binne ses maande as dit verkoel word, want met tyd kan party soorte bakterieë kan die suur en sout toestande hanteer,” het hy verduidelik.

“Die etiket sê die kleur kan verander sonder dat dit die sous affekteer, maar dit beteken daar is chemiese veranderinge aan die gebeur; dus is die sous nie dieselfde soos toe dit oopgemaak is nie, al is dit veilig om te eet.”

© Cover Media