Damvlakke is tans die laagste in jare. Waterbeperkings word in dorpe en stede landwyd ingestel. Op baie plekke moet drinkwater reeds aangery word na gemeenskappe wat die ergste deur die droogte getref word.

Intussen sê reënvoorspellers daar is geen waarborg vir genoegsame reën in die komende reënseisoen nie.

Dít is die droewige prentjie wat Suid-Afrikaners nou in die gesig staar terwyl mense begin vrees dat daar binnekort geen water vir menslike gebruik in ons groot opgaardamme gaan oorbly nie.

Lê die oplossing dalk daarin dat huiseienaars voorsiening moet maak deur hul eie boorgat op hul erf te laat sink?

Dit is dalk makliker gesê as gedaan, want behalwe vir die groot onkoste daaraan verbonde, is nie alle erwe geskik om op te boor nie.

Toeganklikheid

Dit is veral nie altyd vir stedelinge beskore om hul eie boorgat te hê nie. Toeganklikheid tot die erf is een van die grootste probleme, verduidelik Adél Labuschagne van Leon Labuschagne en Seun Boorkontrakteurs in Gauteng.

“Erwe in plattelandse dorpe is gewoonlik ruim met baie spasie rondom die huis. Dit is dikwels nie die geval op voorstedelike erwe nie. Daar is dalk eenvoudig nie plek vir die boormasjien en -toerusting nie,” verduidelik sy.

Die boormasjinerie benodig ’n spasie van ongeveer 16 m lank en 3 m wyd. Daar moet plek wees vir die kompressor, en verder moet ’n vragmotor met toerusting soos boorstange parkeerplek buite in die straat hê.

Adél vertel hulle het al kliënte gehad wat so desperaat was om ’n eie boorgat te kry dat hulle selfs bereid was om mure of braaivleisplekke af te breek sodat die boormasjinerie net op die erf kan kom.

Lees ook: Watertekorte: Hoe oorleef ek die ‘droogte’?

Onkoste

Afhangende van die terrein kan die sink van ’n boorgat ongeveer R250 per meter beloop.

Die diepte van ’n gat voordat water gekry word sal verskil van plek tot plek, maar ’n gemiddelde boorgat is ongeveer 60 m diep. Dit kan wel in sommige gevalle tot 100 m diep wees.

Die boonste gedeelte van die gat, waar onstabiele grondformasies voorkom, word met ’n boorgatvoering uitgevoer.

’n Gewone pomp kos ongeveer R15 000, afhangende van die diepte van die gat en die hoeveelheid water wat jy per uur wil pomp.