Die meeste mense het geleer warm water en seep maak korte mette met kieme aan jou hande.

Navorsers aan die Rutgers-universiteit in New Jersey, Amerika, het egter nou bevind lou water maak dieselfde hoeveelheid skadelike bakterieë dood as warm water.

Akademici het in ’n onlangse studie hoë vlakke van skadelose bakterieë oor ses maande verskeie kere op die hande van 21 deelnemers geplaas. Hulle is toe gevra om hul hande in water met ’n temperatuur van 15 °C, 26 °C of 47 °C en met 0,5 ml, 1 ml of 2 ml seep daarin, te was.

Wat die resultate betref, het prof. Donald Schaffner opgemerk die water se temperatuur “maak glad nie saak nie”. 

“Hierdie studie kan groot implikasies hê ten opsigte van water-energie, aangesien die gebruik van koue water meer energie bespaar as dié van lou of warm water,” het hy in ’n verklaring verduidelik. “Ons het ook geleer net 10 sekondes se was het ’n beduidende aantal bakterieë van die hande verwyder.”

Die bevindings het ook aangedui die hoeveelheid seep wat gebruik word, maak geen verskil by die dood van kieme nie. Jim Arbogast, die medeskrywer van die studiestuk, wil nog meer navorsing doen oor presies hoeveel en watter soort seep nodig is om skadelike mikrobes van hande te verwyder.

“Dit is belangrik, want die grootste behoefte by openbare gesondheid is om handewas en -ontsmetting by werkers in die voedselbedryf en die publiek te verhoog voor hulle eet, kos berei en nadat hulle die toilet besoek het,” het hy gesê.

Die riglyne van die Voedsel-en-Medisynebeheerraad in Amerika beveel tans aan dat die loodgieterstelsels by voedselinstellings en restaurante water teen 37 °C lewer vir handewasdoeleindes.

Schaffner het verduidelik die kwessie rondom die temperatuur van water word reeds ’n aantal jare gedebatteer, maar hy sou graag ’n hersiening van die beleid se riglyne wou sien. 

“Na my mening dui die studie daarop dat ’n verandering in die beleid behoort te kom,” het hy gesê. “Pleks van ’n vereiste temperatuur, behoort die beleid eenvoudig te lui dat lou water of water met ’n gemaklike temperatuur gelewer moet word. Ons vermors energie met die verhitting van water tot ’n onnodige hoë vlak.”
Die volledige studie is in die Journal of Food Protection gepubliseer.

© Cover Media