Saamgestel deur Faiza Mallick

Ons is meestal gelukkig dat ons gunstige weer het. Tog is baie bestuurders juis as gevolg van dié luukse swak voorberei op ongure weer.

Hier is wenke vir bestuur in die winter:

1. Ry stadig. Baie stadig ry is die beste raad wanneer jy in sneeu bestuur. Aanvaar dis onmoontlik om vinnig êrens uit te kom en ry so stadig moontlik sonder dat jy momentum verloor. As dit wel gebeur, sal dit groter inspanning verg tot jou voertuig momentum herwin het. Jy sal ook baie vaardigheid moet bestuur om te keer dat die voertuig gly.

2. Ry in ’n lae rat. Dit verbeter trekkrag. Moenie teen steiltes uitjaag nie. Dit sal jou motor se wiele in die sneeu of op ys laat tol.

3. Veilige volgafstand. Handhaaf minstens drie keer jou gewone volgafstand sodat jy genoeg tyd het vir rem trap. Wanneer jy rem trap, doen dit geleidelik en laat los die rem as die wiele begin spin. Dan, as jou voertuig nie ABS-remme het nie, pomp die rem liggies of tik dit sodat die voertuig stadiger beweeg. Met ABS-remme moet jy sagte maar ferm en konstante druk toepas; jy sal ’n ligte rukbeweging ervaar, wat heeltemal normaal is.

4. As jy gly, stuur in dieselfde rigting. As jou voertuig op die ys of in die sneeu gly, moenie in die teenoorgestelde rigting probeer stuur nie, want dit sal die voertuig laat tol. As jou agterwiele na links swaai, stuur na links tot jy voel jy het weer beheer en stel dan die rigting sagkens en geleidelik reg in die rigting waarin jy wil ry.

5. Onderhoud. Selfs al kom jy nie dié winter ys of sneeu teë nie, moet alle motoriste hul padveiligheid verseker deur die druk hul voertuig se bande korrek te hou en te verseker hul bande het minstens die voorgeskrewe loopvlak van 1 mm.

Bronne: Tiger Wheel and Tyre, SecureTech