Sou jy glashouers en -flesse bo plastiekhouers verkies, byvoorbeeld om kos, slaaie en melk in te berg, maar sukkel om van sterk reuke soos knoffel of ou melk ontslae te raak na die tyd?

Hier’s ’n paar wenke om seker te maak jou glashouers ruik weer so vars soos die eerste keer dat jy dit gebruik het.

  1. Die wonder van mosterd en water

    Gooi doodgewoon ’n teelepeltjie mosterd of -poeier en warm water in die fles/houer. Voeg warm water by, seël die fles en skud dit ’n paar keer. Gooi die water- en mosterdmengsel uit, was jou glasfles soos gewoonlik en jy sal vind die reuk het verdwyn.

  2. Neem dit met ’n knippie sout

    As jy glasflesse vir ’n tydjie moet berg, behoort ’n knippie sout in die fles te help met die absorbering van reuke. Growwe sout werk glo die beste. Draai die fles toe, maar nie te styf nie, voor jy dit wegbêre.

  3. Hoe gemaak as die fles reeds muf ruik?

    Gooi ’n halwe koppie warm water in die fles en roer ongeveer ¾ teelepel koeksoda in. Draai die deksel op en los die fles, selfs oornag as jy wil. Spoel die fles dan uit met water en seep. Verhit water in ’n kastrol en “kook” die fles daarin soos wanneer jy ’n bottel sal steriliseer voor jy ingelegde produkte in die fles sou berg. Moenie die fles afdroog nie. Plaas dit op ’n bakplaat, deksel en al, en sit dit vir sowat 15 minute in jou oond wat jy vooraf tot 160-180 ºC laat opwarm het.

Sou jy haastig wees om die fles te gebruik, kan jy dit natuurlik altyd energiek skud nadat jy die koeksoda en water ingegooi het.

  1. Dis tyd vir koffie.

    As nie een van die oplossings 1-3 werk nie, kan jy selfs gemaalde koffiebone pleks van die sout inspan.

Terloops, plaas gemaalde koffie in ’n ou margarienbakkie met ’n paar gate in die deksel, in jou vrieskas. Dit help om van onaangename reuke in jou vrieskas ontslae te raak.

Deel gerus jou wenke om reuke uit glashouers te verwyder op ons Facebook. Gebruik die hutsmerkie #HGwenk.

Bronne: food-hacks.wonderhowto.com, ourheritageofhealth.com, instructables.com, countryliving.com